Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Volmoed wat sedert 2014 deur die polisie gesoek en eers vanjaar opgespoor is, is verlede week in die Oudtshoorn Landdroshof aan die diefstal van koperkabels skuldig bevind. Hy is drie jaar gevangenisstraf opgelê.
Johannes de Kock (41) het skuldig gepleit op die klagte dat hy koperkabels ter waarde van R21 000 van Telkom gesteel het.
Volgens sy pleitverduideliking het hy by sy suster geloseer en die kabels op versoek van sy swaer gesteel om vir sy verblyf en kos te betaal.
Hy het gesê hy weet nie hoeveel geld hulle daarvoor ontvang het nie en het self niks daarvan ontvang nie.
Landdros Theolin November het met vonnisoplegging gesê De Kock is aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind wat Telkom se vermoë om diens te lewer en werk te verskaf knou.
Volgens die landdros is koperkabeldiefstal tans ’n groot probleem in Suid-Afrika en is De Kock gelukkig dat die misdaad voor die inwerkingstelling van ’n nuwe wet wat ’n minimum vonnis van 15 jaar voorskryf, gepleeg is.
Sy regsverteenwoordiger, Brian Carelse van die plaaslike Regshulpraad, het korrektiewe toesig versoek omdat De Kock sedert 2014 ’n “skoon pad” geloop het en bereid is om teen Frans Koen te getuig.
Die staatsaanklaer, Tuba Nyamate, het egter vir direkte gevangenisstraf gevra omdat De Kock nie ’n eerste oortreder is nie en aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is. Hy het sewe vorige veroordelings waarvan drie relevant was vir die oplegging van vonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.