’N GROEP Oudtshoorniete het Saterdag die eerste tree op die pad van lagterapie geloop, ’n tegniek wat wêreldwyd toegepas word en wye gesondheidsvoordele vir mense inhou.
Volgens Wilna Francis wat die program Youth are Future op Heartbeat FM aanbied, het sy Elize Jacobs, ’n lagterapie-afrigter van George, genader om ’n sessie op Oudtshoorn te kom aanbied. Francis gesels vandag (29 April) om 17:00 in haar program oor lagterapie en die voordele daarvan.
“Dit bied byvoorbeeld groot voordele vir kinders wat getraumatiseer is, of wat leerprobleme het, asook vir bejaardes in tehuise en siekes in hospitale,” sê sy.
Jacobs is ’n gesertifiseerde “laughter coach”en het haar opleiding ses jaar gelede onder dr Madan Kataria in Indië gedoen – die mediese dokter wat lagterapie in 1995 ontwikkel het op grond van sy navorsing oor die genesende krag van lag, en dit daarna aan die wêreld bekend gestel het. Daar is nou al 5 000 lagklubs wêreldwyd.
Volgens Jacobs is lagterapie ’n unieke konsep wat mense laat lag vir geen rede nie.
“Ons lewe in ’n wêreld van Covid waar mense geen rede meer het om te lag nie.
“Ons bied lagsessies aan in ’n omgewing waarin mense veilig voel, en iniseer die lag deur mense lagoefeninge asook asemhalingsoefeninge te laat doen.”
Sy sê in Indië word lagsessies as deel van die skooldag aan kinders aangebied en vergader groepe mense gereeld vir sulke lagsessies in parke.
“Lag help die liggaam om te genees. Die liggaam skei endorfiene en meer suurstof af as jy lag.” (Deur Liesel le Roux)
Lag-lag leer mense die pad na herstel en ’n gesonder lewe
By die lagterapiesessie Saterdag op Oudtshoorn was van links Karen Alexander, Wilna Francis, Reynard Stander, Elize Jacobs (lagterapie-afrigter), Yunith Langeveld, Silphyline Baardtman en Inge Jonker. Foto: Liesel le Roux