Drie sterf, vier vas vir moord

VERSKEIE families in die Groter Oudts­hoorn is die naweek in skok en rou gedompel nadat drie mans – twee van Oudtshoorn en een van Dysselsdorp die naweek gesterf het.

In al drie gevalle word klagtes van moord ondersoek.

’n Vrou en drie mans is in verband met die voorvalle in hegtenis geneem en het almal Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.

Volgens kapt Louis Visser, woord- voerder van die Oudtshoorn Polisie, is Demitrie Visagie (36) in die eerste voorval Saterdagoggend (24 April) op die toneel in Rosevalley deur ambulanspersoneel dood verklaar. Hy is omstreeks 04:10 deur die polisie op die vloer van ’n woning met ’n steekwond in sy nek aangetref. ’n 34-jarige vrou is op ’n klagte van moord in hegtenis geneem. Na be­wering was die oorledene en die verdagte in ’n stryery betrokke.

Net meer as ’n uur daarna, omstreeks 05:30, is Christo Prins (35) per ambulans na die Oudts­hoorn Hospitaal geneem nadat hy in Sewentiende Laan in Bridgton met ’n baksteen teen die kop gegooi is. Volgens Visser is hy later die oggend oor­lede, en het die polisie twee verdagtes van 26 en 35 jaar oud onderskeidelik in verband met die moord in hegtenis geneem.

In die derde voorval het ’n 46-jarige man van Dysselsdorp gesterf nadat sy kop Saterdagaand ’n betonvoorwerp getref het toe hy tydens ’n bakleiery met sy broer (41) geval het. Die broer is Sondag in hegtenis geneem in verband met die moord.

Volgens kapt Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die mans Saterdagaand by hul huis in Baadjiestraat in Dysselsdorp baklei.

“Voorlopige ondersoek toon dat die verdagte die oorledene in sy gesig geklap het en die oorledene toe geval het. Na bewering het die oorledene sy kop teen ’n sementvoorwerp gestamp en was hy daarna lomerig.

Hy het glo geweier om hospitaal toe te gaan vir behandeling en later bed toe gegaan.

“Toe mense hom Sondag omstreeks 11:00 probeer wakker maak het, het hulle besef hy leef nie meer nie.

Volgens die getuieverslag was die beddegoed bloedbevlek en het hy die nag baie gehoes.”

’n Outopsie word vandeesweek gedoen om die oorsaak van sy dood vas te stel. (Liesel le Roux en Stefan Goosen)