Kyk dié bekroonde produksie met Sandra Prinsloo by jou huis!

Sandra Prinsloo in Die Naaimasjien, een van die KKNK se susksesvolste produksies, wat nou verfilm is en aanlyn gekyk kan word. Foto verskaf

DIT is bederf uit die boonste rakke: ’n bekroonde toneelstuk wat jy in jou eie huis kan geniet!

Die aangrypende eenvroustuk van Rachelle Greeff, Die Naaimasjien, is pragtig verfilm en kan nou aanlyn gekyk word as deel van die KKNK se program vir 2021!

Die Naaimasjien het in 2009 gedebuteer en landwyd voor uitverkoopte sale die een na die ander staande toejuiging ontvang. By die KKNK is dit bekroon met die Herrie-Kanna vir die ge­wild­ste produksie en die Kanna vir beste vroulike kunstenaar vir Sandra Prinsloo. En nou, ná honderde opvoerings dwarsoor die land en ’n onver­geetlike speelvak by die Edinburgh-fees in Skot­land, kan die Die Naaimasjien aanlyn gekyk word.

Die stuk begin met Magdaleen wat in haar ouetehuiskamer besig is om haar naaimasjien skoon te maak, want sy het hom verkoop.

Hennie van Greunen, wat die regie en ontwerp vir die toneelstuk gedoen het, vertel hoe Sandra Prinsloo Magdaleen geword het: “Ek het omtrent elke Afrikaanse aktrise getoets vir die rol, maar kon net nie die regte een kry nie. Sandra het – ti­pies professioneel soos sy is – vier bladsye teks voorberei, dit by my huis in Riebeek-Wes vir my kom doen, en ’n halwe bladsy nadat sy begin het, het ons albei geweet: Sy ís Magdaleen.”

Die klankbaan wat in Magdaleen se herinneringe woon, spog met die stemtalent van onder meer Stian Bam, Joanie Combrink, Deon Lotz, Viljé Maritz en Pedro Kruger.

Carien Loubser, bekroonde vervaardiger en TV-regisseur van reekse soos Die Republiek van Zoid Afrika en Jan, het die toneelstuk op film verewig.

Die produksie is in Afrikaans, maar ’n opsie is beskikbaar vir ’n weergawe met Engelse onderskrifte.
Kaartjies is nou te koop by Quicket en is tot 27 Junie om middernag aanlyn beskikbaar. Kaartjies kos R150 elk. As jy ’n lid is van die Kliek-klub of die ATKV, kry jy 10% afslag. Jy sal ’n spesiale kode ontvang wat jy kan gebruik wanneer jy vir jou kaartjies betaal.