Rudy Lombard (57) se lewe het onherroeplik verander toe hy in 1983 op die ouderdom van 15 in ’n motorongeluk betrokke was en sy nek gebreek het. Hy het albei sy ouers in die ongeluk verloor en is sedertdien aan ’n rolstoel gekluister.
Lombard woon in Oudtshoorn saam met sy vrou, Katrien (Cathrine), en is ’n lid van die Mond-en-Voet Skildersvereniging (MNSV). Dit is ’n internasionale vereniging wat in 1957 deur Arnulf Erich Stegmann in Vaduz, die hoofstad van Liechtenstein, gestig is. Daar is tans 26 Suid-Afrikaanse skilders wat deel is van hierdie vereniging.
Lombard vertel dat hulle uiters streng reëls en voorwaardes aan die kunstenaars stel. “Daar mag net met die voete of mond geskilder word. As jy die voorwaardes verbreek en hulle vang jou uit, word jy summier uit die vereniging geskors”, vertel hy aan Die Hoorn. Lombard het in 2003 as student by die vereniging begin nadat Elsie Fouché, ’n vriendin, hom aangemoedig het om die stap te neem.
Hy moes ses skilderye binne ’n maand voltooi en voorlê om by die instansie aanvaar te word. “Die eerste twee jaar het ek net in swart en wit geskilder aangesien ek kleurblind is. Ek het myself geleer om kleure te leer en daarin te skilder, soveel so dat ek glad nie meer in swart en wit kan skilder nie”.
Lombard skilder al vir 21 jaar, en moet jaarliks vyf tot tien skilderye aan die hoofkantoor lewer.
Volgens hom neem dit gewoonlik tussen 10 en 14 dae om ’n skildery te voltooi, maar deesdae neem dit hom langer, aangesien hy probleme met sy nek ondervind en die pyn soms so erg is dat hy nie kan skilder nie.
Volgens Lombard staar die vereniging baie uitdagings in die gesig as gevolg van die moeilike ekonomiese omstandighede. Benewens die feit dat hul winkel in Hartenbos moes toemaak tydens die pandemie, moes baie van die vervaardigingstoerusting ook verkoop word. Dan is daar ook die ineenstorting van die posdienste waarmee hulle die bestellings gestuur het, wat meebring dat hulle nou koerierdienste moet gebruik, wat uitgawes verhoog.
Lombard vertel dat elke skildery wat hy doen, ’n stuk van sy siel bevat. “As ek begin skilder, voel dit vir my asof die Here my nek en mond vat en vir my ’n perfekte prentjie gee wat ek moet skilder, en dan vloei dit net uit my uit”. Karootonele is sy gunstelingonderwerp om te skilder.
Lombard wil graag die mense van Oudtshoorn betrek by die wêreld van die Hand-en-Voet skilders en nooi enigiemand om hom te gebruik vir demonstrasies by skole wat kunsklasse aanbied of vir motiveringspraatjies. Daardeur deel hy sy liefde en passie vir wat hy doen met ander en sê: “So bewys ek ook dat al is jy in ’n rolstoel is daar nog altyd ’n manier hoe jy jou passie in die lewe kan uitleef.” Enigiemand wat hom wil kontak kan dit doen by 084 606 1967 of ’n e-pos stuur na kwads1967@gmail.com.
Kunswerke uit hart en mond
Rudy Lombard besig om te skilder. Foto verskaf