Die kuntenaar, Ivan Nilssen (52), het stil-stil van Montagu gekom en hom ’n aantal maande gelede in Oudtshoorn gevestig. Nilssen is sedert 1995 ’n voltydse kunstenaar. ’n Vriendin, kunskenner en historikus, Blackie Badenhorst, het aan die begin van die jaar vanaf Montagu na Oudtshoorn verhuis en voorgestel dat Ivan sy ateljee skuif.
Hy het tans meer as 100 van sy werke wat in sy ateljee en op die mure van die huis op die hoek van Rand- en St Johnsstraat pryk. Hy vertel dat hy in 1995 onder mentorskap van die Kaapse kunstenaar, André Groenewald, begin skilder het. “Om te skilder is vir my soos om asem te haal, ek moet dit elke dag net doen. André het my soveel van skilderkuns gelee ren ek dink nie ek sou dit sonder hom kon doen nie,” sê Nilssen. Hy sê dit neem tyd om op ‘n nuwe plek bekend te raak en intussen sorg hy dat hy genoeg skilderye maak om op ’n later stadium ’n uitstalling te hou.
Nilssen werk in olieverf en alhoewel portretstudies sy guntelingonderwerp is, doen hy ook stillewes en natuurtonele. Die stil teruggetrokke kunstenaar wys ’n aantal studies van die werke van ou meesters wat hy gedoen het. Op sommiges is die fynste detail aangebring. “My mentor het gesê die toets van ’n mens se talent kom as jy van die ou meesters se werke kan herhaal. Dit is baie werk, want jy kan nie jou eie vryheid of jou eie interpretasie gee nie. Dit moet wees soos wat dit oorspronklik gedoen is.”
Soos wat met talle ander kunstenaars die geval is, is dit vir Nilssen ’n uitdaging om geheel en al van kuns afhanklik te wees, maar hy aanvaar dit gelate. “Dit is moeilik om jouself in die mark te vestig en dit is duur om uitstallings te reël, maar ek kan my nie indink om enigiets anders te doen nie. Ek is ’n kunstenaar, dit is wie en wat ek is,” het hy aan Die Hoorn gesê. Om met Ivan Nilssen kontak te maak kan hy via Blackie op 079 119 0795 bereik word.