Kunstenaar van Calitzdorp sterf na rivier bakkie meesleur

Ronnie van der Walt. Foto: Facebook

DIE omstandighede rondom die verdwyning en dood van ’n bekende keramiekkunstenaar en beeldhouer van Calitzdorp, Ronnie van der Walt (69), word tans deur die Calitzdorp Polisie ondersoek.

Van der Walt se liggaam is Sondagmiddag (11 Oktober) omstreeks 16:30 in die Nelsrivier in Groenfontein gevind nadat daar sedert Saterdag na hom gesoek is.

Sers Christopher Spies van die Suid-Kaap Poli­sie sê ’n outopsie om die oorsaak van Van der Walt se dood vas te stel, sal vandeesweek gedoen word.

Volgens Spies is Van der Walt Saterdag deur ’n familielid by die Calitzdorp Polisiekantoor as vermis aangemeld.

Van der Walt het klaarblyklik sy dogter Vrydag (9 Oktober) besoek, maar nie weer by sy huis opgedaag nie.

’n Soekgeselskap is saamgestel en Van der Walt se wit Toyota Hilux-bakkie is Sondag omstreeks 13:00 in die rivier gevind.

Polisieduikers is na die toneel gestuur en het sy liggaam omstreeks 16:30 uit die rivier gehaal.

’n Vermoede bestaan dat sy wit Toyota Hilux-bakkie reeds Vrydagaand deur die Nelsrivier meegesleur is.

Van der Walt het aan die Johannesburge Kollege vir Kuns sy opleiding in die beeldende kunste en daarna in keramiekwerk voltooi. Hy is in 1976 met die eerste prys bekroon in die Brickor Nasionale Keramiekuitstalling asook in die Oude Libertas Nasionale Keramiekuitstalling in 1977.

Hy het die Things Ceramics Studio and Art Gallery in 1979 in Melville, Johannesburg begin. Van der Walt het dwarsoor Suid-Afrika en ook in die buiteland uitgestal, onder meer in Frankryk, Kanada en Switserland.

Hy het die afgelope jare betrokke geraak by die skepping van houers vir vetplante vir die tuin van die bekende plaas Babylonstoren naby Kaapstad.

Verskeie mense het hom die week as ’n vrye gees, ’n leermeester en ’n legende bestempel.
Hy word oorleef deur twee kinders, Vienie McShane en Guy van der Walt. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Kunstenaar van Calitzdorp sterf na rivier bakkie meesleur"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*