Kook liewer maar nog bruin water

Deur Liesel le Roux
TERWYL INWONERS van Oudtshoorn die laaste dae tou staan in supermarkte vir skoon drinkwater, het die dorp se burgemeester, Colan Sylvester, inwoners gister by ’n perskonferensie versoek om voorlopig voort te gaan om water te kook voordat hulle dit drink.

Eerste toetse wat verlede week op die kraanwater gedoen is, was volgens Chris Koch, waarnemende direkteur tegniese dienste, by twee van die sowat tien toetspunte nie geskik vir gebruik nie. Dié toetspunte was in Wesbank en aan die suidelike punt van Jan van Rie­beeckweg.

Die water by die inloop na die Rau­ben­hei­mer­dam was egter Dinsdag volgens Koch heeltemal skoon. Hy het gesê dit is moeilik om ’n tydsraam­werk te gee wanneer daardie water die dorp sal be­reik, maar dat dit sowat 72 uur kan duur.

Burgemeester Colan Sylvester het verduidelik dat die stortreën in die opvangsgebied van die dorp se drinkwaterbron, die Raubenheimerdam, modder en roet in die water laat beland het – dieselfde as wat in Januarie in De Rust gebeur het. Ernstige brande in Desember het alle plantegroei langs die dam vernietig.

Sylvester het gesê dat ernstig aandag aan twee waterkwessies geskenk moet word – die uitbrei­ding van Oudts­hoorn se waterbronne en die bou van ’n watersuiweringsaanleg, veral in die lig van ’n toename in inwoners en huise. ’n Sui­werings­aanleg sal na beraming R90 mil­joen kos en befondsing sal daarvoor gevind moet word.

Op ’n vraag van Die Hoorn oor inwoners wat nie geld het vir krag om water te koop nie, het Sylvester gesê die munisipaliteit sal met Eden Ramp­bestuur gesprek voer oor hulp as so ’n water­krisis die dorp weer tref.

Kobus du Toit, assistent-stadsingenieur, het verduidelik dat Oudtshoorn se water sedert 1899 uit die berge kom en dat die dorp nog nooit oor ’n watersui­we­ringsaanleg beskik het nie.

Die bergwater word met geslote pyp­leidings na reservoirs op die dorp gebring, en slegs met chloor behandel. Chloor is volgens Du Toit egter nie effektief om troebelheid teen te werk nie.

Omdat die water in pype loop, is dit onmoontlik dat die­re­karkasse of riool dit kan kontamineer soos disinformasie wat versprei is, dit wou hê.

Ook De Rust het nie ’n watersuiweringsaanleg nie, maar Dysselsdorp se wa­ter vanaf die Klein Karoo Landelike Waterskema word wel gesuiwer.

Koch het voorts aangedui dat die munisipaliteit reeds ’n aksie van stapel gestuur het om die Raubenheimerdam beter te po­lisieer sodat die omgewing om die dam skoongehou word en menslike aktiwiteite daar beperk word.