Kommunikasie- en internetdienste, boorgate loop deur

Die foto is Dinsdag op die gevandaliseerde perseel geneem.  Foto verskaf

Bo: So word toegangspaaie met klippe versper. Onder: Van die skade wat Maandagnag by die Bakenskraal-perseel aangerig is. Foto’s verskaf

DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van huisbraak en diefstal na grootskaalse vandalisme van toerusing op ’n perseel wat dienste aanbied aan onder meer ’n wye verskeidenheid kliënte in die kommunika­sie­bedryf.

Toerusting op die perseel by Ba­kenskraal net buite Oudtshoorn langs die pad na George, sluit telemetriese apparaat, tweerigting-radiokommunikasie-toerusting, kommunikasieto­rings, toerusting van internet- en netwerkverskaffers asook beheer­stelsels van boorgatpompe in.

Volgens Ntobeko Mangqwen­gqwe, woordvoerder van die Oudts­hoorn Munisipaliteit, het die muni­- sipaliteit ’n klag by die polisie ingedien.

Hy sê skade aan toerusting op die perseel word op R150 000 beraam.

Koperdraad wat op die perseel ge­steel is en waarna die oortreders vermoedelik op soek was, se waarde is waarskynlik nie meer as R20 nie.

Mangqwenqwe sê die munisipaliteit sal sekuriteit by die perseel moet verskerp om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom.

Daar is reeds begin met die vervanging van gevandaliseerde toerus­ting.

“Daar is tans geen leidrade oor wie vir die skade verantwoordelik was nie.

“Enigiemand wat die polisie kan bystaan in die ondersoek word versoek om die Oudtshoorn Polisie by 044 203 9000 of 10111 te kontak.”

Volgens twee verskillende internet- en tweerigtingradioverskaffers van Oudtshoorn waarmee Die Hoorn gepraat het, is Maandagnag se voorval nie die eerste van sy soort nie.

Hulle het verkies om anoniem te bly.

“Ons word al ’n geruime tyd verlam deur inbrake en vandalisme. Van die kommunikasietorings word ge­vandaliseer en boor­gat­pompe word ge­steel.

“Derduisende rande se skade word aangerig vir ’n paar rand se koperdraad wat in boorgatpompe se drade voorkom,” het een van die persone gesê.

Ander torings word weer glo van sonpanele en batterye beroof.

Dié vandalisme veroorsaak onderbrekings in die verskaffing van internet- en radiokommunikasiedienste met besighede en inwoners wat daardeur verontrief word.

“Besighede word erg benadeel en die landelike waterskema word lam­gelê.

“Baie boorgate en reservoirs word deur radionetwerke beheer, byvoorbeeld vir die aan- en afskakel van pompe en die beheer van reservoirvlakke.”

Bakenskraal, Paardebond en Schoemanshoek loop glo gereeld deur.

Toegangspaaie word ook soms met klippe versper, vermoedelik om toegang te vertraag en die oortreders meer tyd te gee.