Frustrasie oor besoedelde water in die Grobbelaarsrivier

Die emmer besoedelde water wat Hikkie Marais, ’n sakeman en inwoner van Oudts­hoorn, die week voor die kantoordeur van raadslid Johan Fourie gelaat het. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
’N GEFRUSTREERDE sakeman van Oudtshoorn het Maandag ’n emmer besoedelde water uit die Grobbelaarsrivier by die hangbrug geskep en dit voor die kantoordeur van raadslid Johan Fourie, die voorsitter van die tegniese dienste protefeulje, gaan neersit.

Hikkie Marais sê hy het dit uit moedeloosheid gedoen omdat daar geen vordering is met die toestand van die waterprobleem by die hangbrug nie.

Die besoedeling word veroorsaak deur riool- en waswater van die SANW wat as ge­volg van onder meer rioolverstoppings op hul terrein in ’n storm­waterpyp en so in die Grobbelaarsrivier by die hangbrug in Oudtshoorn beland.’n Ondraaglike stank hang ook dikwels oor die gebied waar talle gastehuise en woonhuise geleë is. Die hangbrug is boonop ’n nasionale gedenkwaardigheid wat dikwels deur binne- en buitelandse toeriste besoek word.

Marais sê hy is van mening dat die munisipaliteit groter druk op die SANW kan plaas om die besoedeling wat op hul terrein sy oorsprong het en al jare lank voortsleep, daadwerklik aan te spreek.

“Ek word nou deur party mense beskou as ’n moeilikheidmaker, maar ek kan nie terugstaan wanneer daar na jare nog geen verbetering is nie.

“Ek het sedert my kinderjare ’n besondere liefde vir die Grobbelaarsrivier en het daardie jare by dié rivier omgespeel. Ek onthou die reuk van die rivier as kind en hoe wonderlik dit by die rivier was.”

Marais sê hy het intussen verneem dat die Groen Skerpioene, ’n omgewings-ondersoekeenheid aan die kwessie aandag gee.

Na onbevestig verneem word, het die SANW nie opgedaag by ’n vergadering met die munisipale gesondheidsdienste wat die week geskeduleer was nie.

Dr Johann Schoeman, bestuurder luggehalte by die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, sê die munisipale gesondheidsdienste het geen jurisdiksie op die SANW-terrein waar die oorsprong van die probleem lê nie en mag nie daar optree nie. Slegs die SANW kan die besoedeling op Oudtshoorn regstel.

Die Hoorn het reeds in 2014 berig dat die Distriksmunisipaliteit vasgestel het die stank en besoedeling in die rivier word veroorsaak deur riool vanaf die SANW en dat die SANW daarvan bewus is. Verlede jaar het die Distriksmunisipaliteit bevestig dat die probleem steeds by die SANW lê en hulle van die probleem bewus is.

’n Navraag aan die SANW vandeesweek was teen druktyd nog nie beantwoord nie. Brig gnl Mafi Mgobozi, direkteur korporatiewe kommunikasie van die SANW, het in November verlede jaar gesê hulle werk saam met die Departement van Openbare Werke (DPW) om uitdagings ten opsigte van die “vervalle stormwater- en rioolstel­sels by die Infanterieskool” aan te spreek. Dit sluit opleiding van personeel in oor hoe om die probleem met waswater wat in die stormwaterstelsel beland, reg te stel, terwyl daaglikse inspeksies blokkasies in die stelsel moet voorkom.

Die afgelope weke se besoedeling van die rivier toon egter dat die probleme steeds voortduur.