
Noël Pietersen. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE Kaapse Hooggeregshof het die vonnis van vyf jaar gevangenisstraf wat ‘n voormalige munisipale bestuurder van Oudtshoorn, Noël Pietersen, in Desember 2017 opgelê is, met ’n vonnis van twee jaar vervang.
Pietersen het hom tot die Hooggeregshof gewend nadat hy in 2016 deur streeklanddros Marilyn Cannon skuldig bevind is aan vyf aanklagte van die oortreding van die munisipale finansiële bestuurswet. Hy is in 2017 tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis. Die Hooggeregshof het op 7 Februarie 2019 die skuldigbevinding op drie van vyf klagtes waaraan Petersen deur streeklanddros Marilyn Cannon skuldig bevind is, tersyde gestel en die twee orige saamgeneem vir vonnis.
Cannon het bevind dat Petersen in 2010, nadat hy heraangestel is as munisipale bestuurder van Oudtshoorn, sy posisie misbruik het toe hy ‘n konsultasiefirma, IBR, aangestel het tot voordeel van homself of/en Ian Kenned, eienaar van IBR, Meer as R2 miljoen is tussen Oktober 2010 en Junie 2011 aan Kenned se IBR uitbetaal.
Pietersen is ook daaraan skuldig bevind dat hy gefaal het om sy pligte as rekenpligtige amptenaar van die munisipaliteit na te kom, deur nie die nodige stappe te neem om nuttelose en vrugtelose uitgawes te verhoed nie asook om die nodige stappe te neem dat die munisipale voorsieningskettingbeleid geïplimenteer en op ‘n regverdige, deursigtige, kompeterende en koste-effektiewe wyse toegepas word.
Pietersen was tussen 2007 en 2011 munisipale bestuurder op Oudtshoorn. Hy is in 2009 na ‘n tugproses deur die raad afgedank, maar in 2010 weer aangestel toe die ANC beheer oor die raad oorgeneem het.