Samewerking tussen die sake-gemeenskap en owerhede om van Suid-Afrika ’n nog beter plek te maak, gaan tydens die AHI se jaarlikse kongres onder die vergrootglas kom.
Die kongres word op Donderdag en Vrydag (7 en 8 November) by Makietie Venue, Volmoed buite Oudtshoorn gehou.
Benewens koppe bymekaarsit deur deskundiges en die gehoor, gaan erkenning ook gegee word vir bydraes in die sakegemeenskap.
Die geleentheid begin die Donderdag met ’n gala-aand. Die gas-spreker is prof. Jannie Rossouw, politieke ekonoom en besoekende professor aan Wits se Sakeskool. Sy tema is “Bou aan ’n beter Suid-Afrika”.
Toekennings in die volgende kategorieë word ook tydens die gala-geleentheid gemaak: Beginner-besigheid van die Jaar, Gasvryheidsbesigheid van die Jaar, Kleinboer van die Jaar, Opkomende sakeleier van die Jaar; Opkomende sakekamer van die Jaar en Sakekamer van die Jaar. Twee spesiale voorsitterstoekennings word ook bekendgemaak.
Vrydag vind twee paneelbespre-kings plaas. Die eerste gesprek, “Waar lê ons stem as klein besighede in die beplande Nasionale Dialoog”, word deur Christo van Rheede van die FW de Klerk Stigting, is die spreker. Jody Hendricks is die gespreksleier met paneellede: Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, Japie Gouws, voormalige hoof van ATKV en prof. Jannie Rossouw.
Die tweede paneelbespreking is, “Samewerking tussen sakekamers en plaaslike regering vir ekonomiese groei”.
Dr Willie Cilliers, voorsitter van die AHI, sê mense is welkom om die geleentheid by te woon. Hy benadruk dit gaan die vorm van ’n dialoog aanneem en kongresgangers sal kan saamgesels en insette lewer.
Volgens hom is die beplande Nasionale Dialoog baie belangrik. “Die regering wil ’n besigheidsklimaat vestig. Dis belangrik dat die sakegemeenskap deel sal wees van die besigheidsklimaat.”
Vir verdere inligting kontak die AhI-kantoor by 0795925945 of stuur ’n e-pos aan info@ahiwc.com.
