Vetplante floreer onder Ed se bekwame vingers

Bo: Edzard het ongeveer 500 verskillende soorte vetplante en kaktusse in sy versame-ling agter in sy tuin. Foto’s: Hannes Visser Onder: Edzard Grimbeek by sy 25-jaar oue Bonsai Kremetartboom.

In Edzard Grimbeek se agtererf is ’n kweekhuis waarin meer as 500 vetplant- en kaktusspesies en verskeie bonsai-boompies met groot sorg gekweek en vertroetel word. Edzard sê hy is al van kleintyd gefassineer deur die natuur.

“My ma het gereeld gekla omdat daar gedurig klippe en takkies en plantjies in my sakke was. Ek was nog altyd lief vir die natuur,” het hy Saterdag tydens Die Hoorn se besoek gesê.

Hy het aanvanklik begin met bonsai-bome, maar sowat nege jaar gelede het hy begin om vetplante en kaktusse te versamel en self te kweek.

Hy verduidelik dat die meeste kaktusspesies nie inheems aan Suid-Afrika is nie. ’n Groot gedeelte van sy vetplantversameling is wel inheems.

“Om vetplante te bestuif is ’n proses waarvoor mens groot geduld moet beoefen. Die vetplante blom net eenkeer per jaar en van hulle blom letterlik net vir ’n dag of twee en dan moet ek reg wees om die saadjies te vang, maar dit is die wag werd,” verduidelik hy.

Alhoewel dit ’n stokperdjie is, verg die plante baie van sy tyd na werksure as ’n weermagoffisier.

Dit kan ook ’n duur stokperdjie wees as mens in ag neem dat ’n skaars vetplant die versamelaar ’n paar duisend rand uit die sak kan jaag.

Op ’n vraag waarom die vetplante en kaktusse onderdak ge-kweek word as hulle daarvoor bekend is dat hulle hittebestand is, verduidelik Edzard dit is om te voorkom dat hulle te veel water kry. Hy wys na ’n kremetart-bonsai wat reeds 25 jaar oud is. “As hierdie boom net-net te veel water kry, vrot hy maklik, so ek moet sorg dat elke plantjie net genoeg water kry wat nodig is.”

Op ’n vraag oor hoeveel plantjies hy tans het, haal hy net sy skouers op. “Onthou hier is ongeveer 500 verskillende soorte, maar daar is ’n hele klomp van elke soort en ek het nog nie getel presies hoeveel plantjies hier is nie.”

Mense wat vrae het oor vetplante, kaktusse en bonsai-kuns kan Edzard by 071 299 2189 skakel.

Die Hoorn wil graag nog inwoners ontmoet wat interessante stokperdjies beoefen en dit met die lesers deel.

As jy ’n interessante stokperdjie of tydverdryf het, laat weet ons asseblief per WhatsApp by 083 467 1522. (HANNES VISSER)