Kom kuier vir Siya, Yuna, Yoshi en Sarabi

Bo: Sarabi die rooikatwelkpie. Onder: Slaap was ‘n hoë prioriteit met Die Hoorn se besoek. Foto’s: Angelique Erasmus

Die oulikste, kleinste wollerigste welpies is te sien by die Cango Wildlife Ranch, net buite Oudtshoorn.

Op 5 November 2023 het die jagluiperdwyfie, Ubuntu, onder ’n dig spekbos geboorte geskenk aan drie gesonde welpies.

Met die rugby Wêreldbeker oorwinning net ’n paar dae voor die welpies se geboorte, was dit gepas om een van die welpies na die Springbok kaptein Siya Kolisi te vernoem en bietjie af te wyk van die tradisie waar welke werpsel volgens ’n opeenvolgende letter van die alfabet vernoem word.

Haar sussie is Yuna en Yoshi genoem, wat steeds by die tradisie hou.

Die oulike donsige welpies het twee weke by hul ma gebly en melk gedrink.

Dit het verseker dat hul genoeg kolostrum inkry en sterk teenliggaampies vir ’n sterker immuunstelsel ontwikkel.

Die oorlewingspersentasie vir welpies in die natuur is slegs sowat 30%.

Met jagluiperds wat in gevangenisskap geteel word, word hul kans op oorlewing egter tot 90% verhoog.

Na twee weke word hul verder met die hand grootgemaak tot hulle reg is om besoekers te ontvang.

Oudtshoorniete kan vir hul gaan kuier, en selfs van naby aanskou en hul ruggies en agter hul koppies streel. Yuna beteken vriendelikheid en Yoshi goedheid en respek.

Nog ’n nuwe toevoeging tot die CWR familie, is die rooikatwelpie, Sarabi, wat op die jong ouderdom van 3 weke na die fasiliteit gebring is.

Sy is deur ’n boer in een van sy lande ontdek.

Daar was geen teken van haar ma of enige ander welpies nie. Sy word eersdaags twee maande oud, en kan deur besoekers besigtig word vanaf die loopweg by Cheetaland.

Sy ontvang steeds voltydse sorg deur verskeie versorgers en is ongelooflik oulik.

Haar blou oë en lang punt-ore met swart hare is beslis iets besonders om te aanskou, en dit lyk dalk nie so nie maar sy het lekker groot voete.

Haar versorgers vertel dat sy met tye lekker laf kan wees en rondhardloop, spring en speel, maar met Die Hoorn se besoek was sy egter lus om eerder te slaap en ongelooflik oulik te wees.

Sy het ons harte gesteel.

Die CWR nooi Oudtshoorniete om die nuwe toevoegings te besoek en meer te leer oor elkeen wat nie net uniek is nie, maar ook die belangrike rol wat hul in die ekosisteem speel. (Deur Angelique Erasmus)

Die jagluiperdwelpies bo is Siya en Yoshi, en onder is Yuna. Foto’s: Angelique Erasmus