Klimaatsverandering die fokus op 7 Junie

Deur Liesel le Roux
Die uitwerking van natuurrampe op die Karoo- en Tuinroete-omgewing – soos die voortslepende droogte in die Klein en Groot Karoo en die 2017 Knysna-brande – gaan sentraal staan tydens die jaarlikse byeenkoms van die Garden Route Environmental Forum (GREF) op 7 Junie.

“Die jaarlikse byeenkoms op die herdenkingsdatum van die verwoestende brande in en om Knysna in 2017 gaan sy fokus vergroot om ook die gevolge van klimaatsverandering in die streek te ondersoek,” sê Monde Stratu, munisipale bestuurder van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit.

Volgens Stratu dui al die veldbrande van die afgelope jare op ’n kwesbare omgewing wat worstel om die verandering in klimaat te hanteer, en ’n streek wat blootgestel word aan die risiko’s van droogte, veldbrande en ’n voortdurende verlies aan biodiversiteit en natuurlike habitat.

“Ons wil pogings vir ’n beter voorbereide, veerkragtiger en klimaatgerigte Suid-Kaap en Tuinroete ondersteun en bevorder.”

Volgens Cobus Meiring van die sekretariaat van die GREF ly kwesbare gemeenskappe soos die in die Klein en Groot Karoo tans onder die gevolge van lang periodes van droogte, met boere wat hul landboubedrywighede as gevolg daarvan moet laat vaar en met gemeenskappe wat verslae gelaat word.

“Natuurrampe op ’n ongekende skaal – soos ook die onlangse verwoesting deur sikloon Idai in Mosambiek – is ’n wekroep vir gemeenskappe en owerhede dat klimaatsverandering ’n werklikheid is en niemand immuun is daarteen nie.

“Die Karoo- en Tuinroete-gebiede moet ook beplan vir oorlewing.”

• Die GREF is ’n streeksforum wat fokus op bewaring, die omgewing en gemeenskapbetrokkenheid.
Meer inligting oor die byeenkoms sal op die webtuiste http://www.scli.org.za/gref bekend ge-maak word.