Ghoema vir Basjan!

Brian (Basjan) Nieuwoudt wys die album,Tuisgebak, waarmee hy verlede week ’n Ghoema losgeslaan het. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
EN daar wen ’n Oudtshoorniet sowaar verlede week ’n gesogte Ghoema-toekenning!

Brian (Basjan) Nieuwoudt, bekende musikant van die dorp, se 18 snit-CD, Tuisgebak, het die afdeling vir die beste boere- of tradisionele musiekalbum gewen.

Hy het nie die Ghoema Musiektoekenningsaand in Pretoria verlede Woensdag­aand bygewoon nie as gevolg van werks­verpligtinge.

Die CD is in drie kategorieë benoem – beste groep, beste album en beste boere- of tradisionele album.
Basjan vertel dat die album sy oorsprong gehad het in 2010 toe hy opnames gemaak het van wyle Fred Rheeder van Mosselbaai wat banjo speel.

Die opnames is sommer informeel in Rheeder se sitkamer gemaak.

“So het dit al jare op my rekenaar gelê, totdat Alan Ladd my op ’n dag gevra het wanneer ek die album gaan klaarmaak omdat hy graag Fred se banjo wou hoor.”

Fred is in 2014 aan kanker oorlede.

Basjan het begin om die liedjies met verskillende instrumente op te neem en het dit gemeng. Die album het in 2018 verskyn.

Hy vertel dat die album sy titel Tuisgebak gekry het omdat dit sommer lekker gemaklik in die sitkamer aanmekaar geslaan is!

“Dis vir my ’n groot eer om die toekenninge te ontvang,”sê hy.

Basjan is reeds 37 jaar betrokke by die musiekbedryf en speel nege verskillende musiekinstrumente, onder andere die trek­klavier, konsertina, kitaar en mandolien.

Twee van sy boeremusiekalbums, Wes­kus 1 en Weskus 2, het goue status bereik.

Hy maak egter nie net musiek nie, maar vervaardig ook en neem musiek op onder die naam Basjan Musiekproduksies.

Hy vertel hy het in 2011 opgehou om professioneel musiek te maak, en het hom begin toespits op interkerklike musiekbe­diening.

In 2017 het hy nog ’n album met gospelmusiek opgeneem met die titel Vrygekoop.

Dit is ook die naam van sy groep wat saam met hom optree.

Basjan sê musiek is net deel van sy be­diening.

Hy doen ook vrywilligerswerk vir Geopende Deure wat vervolgde Christene in ander lande ondersteun en bystaan.

“Sout in ’n soutpot is nie lekker nie, dit moet in kos wees om ’n verskil te maak,” sê hy.

En dit lyk of die appel nie ver van die boom geval het nie.

Basjan en sy vrou, Annelie, se twee seuns, Sebastiaan (17) en Andreas (14), is volgens hul pa ook baie musikaal.