KKNK sal koronavirus moniteer; fees gaan voort

DIE KKNK gaan voort en daar is tans geen rede vir organiseerders om die kansellasie van die fees te oorweeg nie, lui ’n persverklaring wat gister deur die Kunste Onbeperk, die organiseerder van die fees, uitgereik is.

Luidens die verklaring is die bestuurspan van Kunste Onbeperk daagliks in gesprek met die Oudtshoorn-gesondheidsgroepering van die Klein Karoo-nooddiensforum oor die koronavirus (Covid-19).

 Stephan Henrico, voorsitter van die Oudts­hoorn-gesondheidsgroepering, sê daar is tans geen rede tot paniek nie.

“Ons moniteer die situasie en sorg dat alle nodige gebeurlikheidsplanne in plek is. Die gesondheidsdepartemente werk ook nóú saam om die nodige maatreëls te tref. Ons versoek die pu­bliek om nie vals nuus wat paniek kan veroorsaak te versprei nie.”

Henrico sê enige verwikkelinge sal gekommunikeer word.
Die KKNK beoog om in samewerking met gesondheidsorganisasies op Oudtshoorn hulpbronne tydens die fees beskikbaar te maak, soos verskeie punte op die dorp en by van die venues waar feesgangers gereeld hul hande kan was.

“Ons moedig die publiek aan om die riglyne te volg wat die regering verskaf: vermy fisieke kontak (handskud, drukkies, ens), was jou hande, moe­nie met jou hande aan jou gesig vat nie en gaan dadelik na jou dokter toe indien jy simptome het soos ’n loopneus, seerkeel, hoes, koors en moeilike asemhaling.”

Be the first to comment on "KKNK sal koronavirus moniteer; fees gaan voort"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*