
Van links is Eben Keun, Karen Meiring, Saartjie Botha, Amelda Brand en Ingrid Heydenrych. Foto’s: Hans van der Veen
SKUD julle vere reg, hier kom die fees! Só het die burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macperson verlede Vrydagaand by die programbekendstelling van vanjaar se KKNK by Surval Boutique Olive Estate gesê. Hy’t ’n uitnodiging aan alle feesliefhebbers in Suid-Afrika gerig en gesê Oudtshoorn staan reg om almal te verwelkom.
Die 27ste KKNK vind vanjaar van Saterdag 1 tot Sondag 9 April plaas. Die feesdatums val in die skoolvakansie en sluit Paasnaweek in.
Absa, hoofborg van die KKNK, het by die programbekendstelling aangekondig dat hul borg-skap met ’n verdere drie jaar verleng word. “Absa beskou dit as waardevol om Suid-Afrika se dinamiese kunstesektor te ondersteun. Ons strategiese doelwit is om die goeie na te streef in alles wat ons doen. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees pas uitstekend hierby in en ons is trots om ons lang verhouding met die befaamde fees voort te sit,” het Faisal Mkhize, uitvoerende hoof van Absa Verhoudingsbankdienste, gesê.
Volgens Hugo Theart, artistieke direkteur, bied vanjaar se feesprogram iets in almal se smaak.
Feesgangers kan onder meer uitsien na meer as 30 debuutwerke en ook ’n keur van die beste produksies van die afgelope jaar by ander feeste en teaters. Goeie nuus vir musiekliefhebbers is dat die opelugkonserte weer terug is.
Die KKNK skop op 1 en 2 April af met ’n twee-dag musiekfees getiteld AMOK!, waar van die land se gewildste groepe en sangers gaan optree. Ander konserte sluit in Spoegwolf en Vriende; Die grootste Karoo-paartie ooit! en ’n Nataniël-konsert op Paassondag. Kaartjies na die opelug-aandkonserte sluit toegang tot die feesmark vir die dag in.
Teaterhoogtepunte
Reza de Wet se drama-komedie Mirakel, onder regie van Marthinus Basson, met Dawid Minnaar, Brümilda van Rensburg, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith en Eben Genis, vertel die storie van ’n teatergeselskap in die 1930’s wat hulleself in ’n klein dorpie bevind en voor moeilike besluite te staan kom.
Die veelbekroonde Karoo Kaarte-span vanuit die Oudtshoorn-gemeenskap, bied Droomkraan Kronieke aan, met onder andere Carlo Daniels, Janion Kennedy en Marinda Ntantiso. Hulle span kragte saam met ontwerper en poppemeester Craig Leo, vir ’n produksie perfek vir die hele gesin.
Ander debuutwerke sluit in: Bul, ’n donker-komedie onder regie van Nicole Holm met René Cloete, Wian Taljaard, Wynand Kotze en Peggy Tunyiswa. My Kroon se krank, ’n teks deur Veronique Jephtas en Lynthia Julies, met Jephtas wat ook in die solostuk speel, is onder regie van Tinarie van Wyk Loots met Lee-Ann van Rooi as vervaardiger. Dit is ’n koproduksie van die KKNK en Suidoosterfees en vertel die storie van drie karakters se reis na hernuwing en begin.
Nuwe musiekblyspel
Op die musiekfront bring David Kramer ’n splinternuwe musiekblyspel na Oudtshoorn in Ver in die wêreld Kittie, met Dean Balie, Jenny Stead, André Terblanche, Rushney Ferguson en Dylan Roman.
Deur die oë van Kittie Jaftha en Koos Heuningbek, word die storie vertel van die sangpaar Josef Marais en Rosa de Miranda wat in die 1950’s groot sukses oorsee met liedjies van Suid-Afrika gehad het.
Ander debute op die musiekprogram sluit in Amber/Ombré met Amanda Strydom, Coenraad Rall en Susan Mouton; ’n Blom in elke vrou met Petronel Baard, die Suid-Kaap Kinderkoor en Mosselbaai-strykensemble en Boeremusiek, Rocco-styl met Rocco de Villiers, Lizelle le Roux en Hansie Roodt jr.
Kinderteater
Verskeie kinderteaterproduksies sorg vir hope vermaak vir die jongspan. Die Kanna-bekroonde Liewe Heksie-span van 2022, Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl, keer boonop terug in Liewe Heksie vang vis.
Verskeie Klein Karoo-ervarings word aangebied, wat aan feesgangers ’n geleentheid bied om die Klein Karoo op unieke manier te ervaar en te proe.
Die volledige feesprogram is op die KKNK se webblad beskikbaar. Kaartjieverkope vir Vriende van die KKNK open Maandag 30 Januarie en Woensdag 1 Februarie vir die publiek. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets, of Pick n Pay. Vir meer inligting, besoek www.kknk.co.za of skakel 044 203 8600. (Deur Angelique Erasmus)