KKNK 2022 bring land se grootstes na Oudtshoorn

Bo: Die Oudtshoorn-digter en skrywer, Tiffany Saterdaght (links), en be­kende akteur Frank Opperman was Saterdagaand die seremo­nie­meesters by die bekendstelling van die program vir vanjaar se KKNK wat van die grootste name in die kunstebedryf na Oudtshoorn bring. Die bekendstelling het by Surval net buite Oudtshoorn plaasgevind. Onder gesels Opperman en die akteurs Lida en Johan Botha wat deesdae op Calitzdorp woon. Foto’s: Maryna Cotto

Dié koor van Fezekile Sekondêr op Oudtshoorn wat deur een van die leerders afgerig word, se optrede was een van die hoogtepunte by die bekendstelling van die program van vanjaar se KKNK. Foto: Maryna Cotton

DIE Klein Karoo se betowerende skoonheid teen sononder, die aangrypende woorde en musiek van Coenie de Villiers en Frank Opperman se skerp humor het Saterdag­aand die perfekte platform geskep vir die bekendstelling van die KKNK-program vir vanjaar se fees wat van 29 Maart tot 3 April op Oudtshoorn plaasvind.

Dié bekendstelling in die buitelug by Surval buite Oudtshoorn is ook aanlyn uitgesaai.

Oudtshoorn se eie jong digteres en skrywer, Tiffany Saterdaght, was saam met Opperman die seremonie­meesters van die aand, terwyl ’n koor van Fezekile Sekondêr – onder die leiding van een van die leerders – opgetree het.

Die KKNK keer na twee jaar se afwesigheid terug met van die grootste name in die kunstebedryf wat op die verhoë te sien sal wees: Nataniel, Sandra Prinsloo, Karen Zoid, Emo Adams, Anna-Mart van der Merwe, David Kramer, Schalk Bezuidenhout, Marc Lottering, Amanda Strydom, Elvis Blue, Spoegwolf, Rocco de Villiers, Marlo Minnaar, ens, ens. En die verhoë is in die dorp, maar ook in pragtige buitelugvenues om die dorp soos by Celebratio, Surval en Karusa.

Crispin Sonn, voorsitter van die Kunste Onbeperk-direksie, het gesê die KKNK het ’n verpligting teenoor besoekers en teenoor Oudtshoorn se inwoners om die fees versigtig te bestuur, om seker te maak kunstenaars en gehore is veilig, en ook handelsname van borge in ag te neem.

“Daarom is die inentingsmandaat wat groot debat veroorsaak het, ingestel. Maar ons het al die opsies en uit­komste oorweeg; ons het regsge­leerdes en gesondheidkundiges geraad­pleeg vir advies en besef dis die verantwoordelike ding wat ons moet doen. Ons het alles oorweeg, en dit is die beste besluit wat ons kon neem. Ons het ’n fees nodig.”

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, het daarop gewys dat die KKNK die eerste kunstefees is wat weer open sedert Covid-19 twee jaar gelede feeste oor die land se deure gesluit het.

“Die inentingsmandaat beteken dat daar toegangsbeheer by alle venues sal wees en slegs mense wat ingeënt is, kaartjies kan koop. Mense wat nie ingeënt is nie, kan ’n PCR-toets laat doen en sal toegelaat word indien dit toon hy of sy het nie Covid-19 nie.”

Oudtshoorn se burgemeester, Chad Louw, het gesê dit sal ’n voorreg wees vir almal om na twee jaar weer saam te kan fees hou.

“Ons sal moet besef hierdie is die nuwe normaal. Ons is bly die geleent­heid kon geskep word vir mense om weer na ons dorp te kom.”

Die Kuierbuurt word vanjaar die Feesmark wat by die De Jager Sportsentrum gesetel sal wees. Wynproe- en deli-produkte sal hier beskikbaar wees asook die Castel Lager-verhoog.

RSG is nie vanjaar terug by die fees nie, maar by die CP Nel Museum sal die Netwerk24 Feeskafee verrys. Boekgesprekke en Die Burger Praat Saam-reeks sal ook hier plaasvind. Alles by dié venue is gratis.

Baron van Reedestraat sal nie soos in die verlede gesluit word vir die fees nie.

• Kaartjieverkope vir die publiek open vandag (3 Maart): aanlyn by Webtickets (www.webtickets .com) of by Pick n Pay. Kaartjies wat vooraf gekoop word is goed­koper as tydens die fees.

Gaan na kknk.co.za vir die program of skandeer die QR-kode op die KKNK-advertensie onderaan dié bladsy. (Deur Liesel le Roux)