KKEB groei ondanks landbou-uitdagings en ekonomiese druk

Onder: David Malan (KKS besturende direkteur), Pieter Barnard (KKEB-bestuurder), Roelof Botha (gasspreker), Johannes Delport (KKEB-voorsitter) en Terblanche du Plessis (KKA besturende direkteur). Foto: Angelique Erasmus

Klein Karoo Eiendoms Beperk (KKEB) en sy filiale Klein Karoo Agri (KKA), Klein Karoo Saad (KKS) en die nuwe filiaal Klein Karoo Finansiële Dienste (KKFD) het op Vrydag 28 November hul jaarvergadering gehou waar die jaarverslag voorgehou is.

Suid-Afrika se landbousektor het die jaar verskeie uitdagings in die gesig gestaar, onder andere die verhoogde VSA-invoertariewe, die bek-en-klouseer uitbraak, voëlgriep, en Eskom-verhogings. Ten spyte hiervan het die KKEB-Groep steeds sterk presteer.

Hoogtepunte vir die jaar sluit in die ontwikkeling van die Jou Eie!-sentrum, wat suksesvol deur KKA afgehandel is en amptelik op 31 Oktober 2024 geopen het.

KKS het die Agrofors-besigheid met sukses in die weidingsaadmark gevestig. Die proefplaas, Besembos naby Calitzdorp, met die groot verskeidenheid kultivars wat ontwikkel en getoets word, is van groot waarde vir produsente.

Die nuwe filiaal, Klein Karoo Finansiële Dienste (KKFD), is gedurende die jaar opgerig. Hierdie versekeringsbesigheid is suksesvol van stapel ge-stuur en die toekomstige strategie ten opsigte van oes- en kort-termynversekering, is aangebied. Laurika van Rensburg, kundige versekeringspesialis, is vanaf 1 Januarie 2026 aangestel.

Die 2024/2025 finansiële jaar was die beste nog vir die Groep, met ’n totale omset van R2,163 miljard, ’n styging van 11,4%.

“Vanjaar is ’n besondere jaar vir KKS,” het David Malan, besturende direkteur van KKS, gesê. “Die besigheid is in 1945 gestig en ons kon vanjaar terugkyk op die laaste 80 jaar van ons bestaan, asook 45 jaar se betrokkenheid by saadproduksie.”

Volgens David was dit ’n uitstekende jaar vir wortels, met goeie opbrengste en kwaliteit oor ’n wye gebied. “Dit het grootliks daartoe bygedra dat KKS ’n goeie jaar kon behaal.”

KKS se omset het met 24,3% toegeneem. David skryf dit toe aan groter oppervlaktes onder saadproduksie sowel as produsente se goeie resultate. “Vanjaar het ons ’n rekordbedrag van R70 miljoen goedgekeur wat as ’n aanvullende betaling aan produsente uitbetaal is.”

Volgens Terblanche du Plessis, besturende direkteur van KKA, het KKA ‘n omsetsyfer van R1,173-miljard behaal. “Goeie strategiese besluite op die regte tye het hierdie resultate moontlik gemaak.”

KKA se unieke lojaliteitsprogram beloon lojale kliënte vir hul volgehoue ondersteuning, en bloukaarthouers ontvang jaarliks ’n kontantuitbetaling. Vanjaar se uitbetaling beloop R8,7 miljoen.

Volgens Pieter Barnard, bestuurder van KKEB, het die Groep onlangs ’n digitale platform bekend gestel waar aandeelhouers en ander belanghebbendes klagtes, voorstelle en versoeke anoniem kan rapporteer (www.kleinkaroo.briefseal.co.za). Hy het voorts beklemtoon dat die Groep verbind is om ’n goeie balans tussen produsentewelvaart en ’n gesonde groep van maatskappye te verseker.

Die gasspreker vir die geleentheid was die be-kende ekonoom Roelof Botha, wat die belang-rikheid van die landbousektor uitgelig en interessante statistieke met die gehoor gedeel het. “As dit kom by die landbousektor is Suid-Afrika selfvoorsienend en grootliks uitvoergerig,” het hy gesê.
“Landbou is uiters waardevol vir die land se ekonomie.”