

Die tweede De GrootVoël Rally, wat vanaf 28 tot 30 November by die Kango Bergoord net buite Oudtshoorn plaasgevind het, het vanjaar uit sy nate gebars.
Motorfietsentoesiaste van regoor die hele land het duisende kilometers gery om die gesellige rally by te woon.
Vanjaar was daar vir jonk en oud vermaak. Deelnemers kon al Vrydag vroeg arriveer om hul kamplekkie op te slaan, met die opening wat om 18:00 die aand plaasgevind het. Oudts-hoorn se onderburgemeester, Mziwoxolo Tyatya, het ook ’n draai by die verrigtinge gemaak om gaste te verwelkom in die Grootvoël paradys. Marisca Rain and the Thunder, bekende plaaslike musikante, het die aand opgetree en ou en nuwe bekende liedjies gesing. Later die aand het die bekende platejoggie Brandon Leigh vir vermaak gesorg, terwyl Oudtshoorn se Johan Brooks om die beurt die dansvloer vol gehou het.
Saterdag is motorfietryers die geleentheid gegee om hul waaghalsige toertjies in die dorp te wys. Vredestraat was vir ’n geruime tyd gesluit sodat die publiek kon kyk hoe die rook trek terwyl skreeuende bande meeding om die langste strepe te maak. Daar was selfs vlamme (wat vinnig geblus is). Hierdie toertjies is nie deur amateurs aangebied nie, maar deur ervare ryers wat weet wat hulle doen. Selfs die dames en jonges het nie teruggestaan nie.
Een van die groot trekpleisters is op die aanloopbaan van die Oudtshoorn-lughawe aangebied. Hier het spoedvrate die kans gehad om te wys wie se wiele is die vinnigste. Van die duurste, mooiste, kleurvolste motorfietse het hier saamgetrek, en die adrenalien het behoorlik deur die are gepomp.
Die uniekste geleenheid by vanjaar se rally was toe Danie en Ivanka Saterdagmiddag by die rally ewig trou aan mekaar beloof het. Beslis ’n unieke manier om ’n spesiale dag en hul gedeelde passie te kombineer.
Volgens verskeie kommentare op die rally se Facebook-blad is die organiseerders geloof vir ’n uitstekende gereëlde bymekaarkoms, en ten spyte van die storm steeds ’n suksesvolle rally aangebied het.
Almal wat kommentaar gelewer het, was dit eens dat hulle beslis weer terug sal wees vir die volgende een. Alex van der Walt, president van die Bikers Heart-klub in Oudtshoorn wat die rally gereël het, het die volgende aan Die Hoorn gesê: “Daar was vanjaar sowat 1 800 meer motorfietsryers as verlede jaar.” Hy voeg by dat die dorp behoorlik gegons het, en dat hulle beslis nie die suksesvolle rally kon aanbied sonder die hulp van verskeie borge wat ingeklim het en die inisiatief ondersteun het nie. “Dis lekker om ons mooi dorp vir deelnemers te kon wys, veral die dorp se gasvryheid.” Hulle sien uit na volgende jaar se rally en is reeds besig met die beplanning vir die De GrootVoël Rally 2026.
Die voorlopige datum is van 2 tot 7 Desember, afhangend van die skole en wanneer eksamens klaarmaak.
Daar word nog meer verrassings vir volgende jaar beplan wat twee- en vierwiele insluit.