’n Afgevaardigde van een van die kerke steek ’n kers aan tydens die diens. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
UCCSA- DAG is Sondag op luisterryke wyse deur die kerke in Sone 2 van die Outeniquastreek in die Toekomsrus United Congregational Kerk op Oudtshoorn gevier.
Gemeentes van die agt UCCSA-kerke – Bongolethu, Bridgton, De Rust, Oudtshoorn, Weyers Memorial, Calitzdorp, Toekomsrus en Dysselsdorp – het die diens bygewoon.
Dit was die 52 ste herdenking van die stigting van UCCSA (United Congregational Church of Southern Africa).
Eerw Bennet Draai van die Henry J Blazey Memorial kerk op De Rust het in ’n besielende boodskap na aanleiding van Handelinge 19:11 gevra of die kerk van vandag nog ’n faktor is om die wêreld ’n beter plek te maak.
“Die kerk is die plek vir aanbidding, om God te loof en prys met die sy hoofdoel die verkondiging van die Evangelie. Ons het egter toegelaat dat die wêreld die kerk regeer in plaas van andersom,” het Draai gesê.
Hy het ’n beroep op Christene gedoen om meer betrokke te raak in die gemeenskap en die tema van UCCSA uit te leef.
Die Sone 2 -koor van die Outeniquastreek onder leiding van John Theodore en Stefanus Marnewick (dirigent) het tydens die diens drie sangstukke gelewer terwyl ’n blaasorkes die diens verder opgehelder het.
Kerse is ook tydens die diens aangesteek vir Suid Afrika se vroueslagoffers aan die hande van mans, vir Zimbabwe, Mosambiek, Botswana en Namibië, vir alle buitelanders wat in Afrika gesterf het, vir almal wat aan kanker en MIV/Vigs ly, vir alle kerke om aktief besig te wees met God se missie en vir almal wat op verkeerde weë wandel.
UCCSA is op 3 Oktober 1967 in Durban gestig toe die London Missionary Society, die Congregational Union of South Africa, die American Board Mission en die Bantu Congregational Kerk saamgesmelt het.
Die eerste Sondag in Oktober is toe bepaal as UCCSA-dag met die hoofdoel om fees te vier en te reflekteer op die reis tot dusver as ’n UCCSA-familie.