Rufus, ’n Ierse terriër, saam met Francois Coetzee en Vanessa Engelbrecht van ACT (Animal Care Team) nadat hy Vrydagoggend sy gratis hondsdolheidsinspuiting by die staatsveeartskantoor op Oudtshoorn gekry het. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
SOWAT 500 honde en katte is verlede Vrydag deur die Animal Care Team (ACT) en staatsveearts op Oudtshoorn teen hondsdolheid ingespuit. Dié inisiatief het deel uitgemaak van Wêrelddieredag wat op 4 Oktober gevier is.
Daar was die dag ook hope vermaak vir oud en jonk by die staatsveeartskantoor in Van der Rietstraat.
Leerders van plaaslike laerskole en kleuterskole het die kantoor besoek en is met die toorkuns van Tony van Sittert vermaak. Daar was ook stalletjies waar handgemaakte items te koop was.
Volgens Vannessa Engelbrecht, voorsitter van ACT, was die dag ’n groot sukses.
“Ons het oorspronklik beoog om 300 diere in te spuit, maar het op die dag meer as 460 diere ingespuit.
Ons beoog om in die volgende weke na plaaslike gemeenskappe in en om Oudtshoorn te gaan om nog diere gratis in te spuit omdat daar mense is wat nie vervoer het nie. Ongelukkig versprei dié verskriklike siekte al hoe nader aan ons gebied en daarom is dit van die uiterste belang dat soveel diere moontlik die teenstof ontvang.”