Geslagsgebaseerde geweld raak alle geslagte, alle ouderdomme

Sannie Kanne­meyer (links) en Maryna September wat by ’n ontbytgeselligheid die kwessie van geslagsgebaseerde geweld aangespreek het.  Foto:  Deon Meyer

Deur Deon Meyer
“GESLAGSGEBASEERDE geweld raak almal. Dit ken geen status nie – ryk, arm, vrou, man, kinders.”

Met hierdie treffende inleiding het suster Maryna September, verpleegkundige en voormalige operasionele bestuurder by die Ladismith Kliniek, die onverdeelde aandag van ’n groep vroue en mans by ’n ontbytgeselligheid in Lutherhuis getrek.

“Jade Panayiotou, Karabo Mokoena, Lynette Volschenk is maar net ’n paar voorbeelde van vroue wat onlangs die media gehaal het omdat hulle òf vermoor òf verkrag is òf albei deurgemaak het.”

September het dit duidelik gemaak dat geslagsgebaseerde geweld ’n skending van menseregte is asook ’n vorm van diskriminasie teen ’n ander persoon.

Sy het verskillende vorme van geslagsgebaseerde geweld uitgelig: slaan, verwurging, ge­dwonge seksuele dade binne die huwelik, isolasie, asook om ’n slagoffer te verbied om dokter toe te gaan.

Sy het die gehoor laat regop sit toe sy mites uitgelig het – byvoorbeeld dat dit nie ’n misdaad is om jou vrou te slaan nie maar eerder dissiplinering of ’n manier is om liefde te betoon.

Volgens September toon statistiek dat 21 vroue weekliks aan die hand van hul huidige of vorige liefdes- of lewensmaat sterf.

Geslagsgebaseerde geweld kos die regering R105 miljoen jaarliks.

Sy het gesê sy glo ’n oplossing is ’n meer prominente rol deur kerke in die bekamping hiervan, deur byvoorbeeld gereelde bespreking daarvan binne kerkorganisasies en die stig van ondersteuningsgroepe vir slagoffers.