Katot Meyer by die boom wat hy onder sy vlerk geneem het en saam met sy familie versorg. Hy het ’n klein bordjie aan die boom vasgesit wat lui: “Witstinkhoutboom M”. Die M staan vir Meyer.

Deur Schalk le Roux
KATOT MEYER van Oudtshoorn is iemand wat sy liefde vir die omgewing en natuur daadwerklik uitlewe.
Hy sê toe hy in Desember oplet die witstinkhoutbome voor die Queen’s Mall in Voortrekkerweg, Oudtshoorn, kry swaar en dat van hulle al gevrek het, het hy onmiddellik die boom wat lyk of dit die swaarste kry, “aangeneem”. Meyer het dadelik ’n lekker deklaag op die grond om die boom gegooi en dit goed natgelei.
En elke keer as Meyer en/of sy vrou, Ilse, ook ’n natuurliefhebber, nou by die Queen’s Mall kom inko-pies doen, bring hulle ’n 5 liter-houer met water saam en gooi hulle die boom daarmee nat.
Meyer se seuns het ook opdrag om die boom te gaan natgooi as hulle op Oudtshoorn kom.
Nou, sowat ’n maand ná die aanneming, is die boom die enigste een op die parkeerterrein wat nuwe groen blaartjies uitstoot!
Hy nooi nou al die besighede in die Mall asook lede van die publiek om ’n boom op die parkeerterrein aan te neem en te versorg.
“In my geestesoog sien ek groot bome wat ’n lowerryke dak vorm wat die parkeerterrein afkoel en skadu-wee vir heelwat meer motors bied as wat tans die geval is. As al die bome op die parkeerterrein aangeneem en versorg word, kan dit oor ’n paar jaar sommer baie mooier lyk,” sê hy.
Meyer het ’n klein rooi plaatjie teen die boom se stam aangebring met die woord “Witstinkhout” daarop en die letter M, wat vir Meyer staan, daaronder.
Hy vra ook of daar nie ’n kwekery is wat twee witstinkhoutboompies kan kom plant nie in die plek van twee bome wat al op die parkeerterrein gevrek het.