Kansa se Relay for Life en Shavathon dié Saterdag op Oudtshoorn!

'n Vorige Relay for Life. Foto verskaf

KANSA se Relay for Life, wat jaarliks ‘n prettige oornag-spanbougeleentheid en fondsinsameling is, gaan eerskomende Saterdag (27 Februarie) met streng Covid-maatreëls voort.

Die Relay for Life vind ouder gewoonte op die De Jager Sportkompleks se tartanbaan plaas, en begin om 18:00. Spanne kan inskryf teen R600 per span van 10, en besoekers kan die dag saam met hulle geniet teen R50 per persoon.

Deelnemers word vanjaar gevra om pers vir die geleentheid aan te trek.

Die fondse wat ingesamel word, sal aangewend word vir opvoeding oor kanker, en vir die sorg en ondersteuningsdienste vir kankerleiers.

Oorwinnaars van kanker word versoek om Kansa by sel 072 133 0444 te skakelnom die Luninaria-funksie, wat oorwinnaars vereer, te kan bywoon.

Die Relay for Life vind vanjaar saam met die jaarlikse Kansa Shavathon plaas, wat op 27 en 28 Februarie plaasvind. In Oudtshoorn sal inwoners Saterdag hul hare kan kleur of afskeer om hul ondersteuning vir kankerleiers en -oorwinnaars te wys – vanaf 09:00 tot 15:00 op die parkeerterrein van die Queen’s Mall in Voortrekkerweg.

Volgens Adri Odendaal, gemeenskapsmobiliseerder van Kansa in die Suid-Kaap, sal die Wes-Kaap Bloeddiens ook daar wees.

Odendaal het inwoners van Oudtshoorn uitgedaag vir ‘n bietjie pret. Sy sê inwoners sal kan “bie” om dat sy haar hare moet kleur of afskeer. “Hoe groter die bedrag, hoe groter die kans dat ek my hare sal afsny,” sê sy.

Die Shavathon sal Sondag by Smitswinkel in Langenhovenweg voortgaan, waar motorfietsryers van regoor die Suid-Kaap ‘n verbyrit sal doen ter ondersteuning van Kansa.

Kontak Odendaal gerus by 072 133 0444 vir verdere inligitng.