DIE saak teen die vier senior amptenare van die Kannaland munisipaliteit wat van bedrog aangekla word, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn streekhof vir pleit en verhoor tot Oktobermaand uitgestel.
Die menslike hulpbronnebestuurder, McGrandile Makier, Hendrik Barnard, direkteur: korporatiewe dienste, die munisipale bestuurder, Morné Hoogbaard, en Nigel Delo, voormalige hoof van finansies, word daarvan aangekla dat hulle oor ’n tydperk die Kannaland munisipaliteit glo uit meer as R338 miljoen bedrieg het. Hulle word aangekla van bedrog en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.
’n Lasbrief is uitgereik vir die inhegtenisneming van Delo wat tans in die Oos-Kaap werk, en met verlof nie teenwoordig was nie. Dit word oorgehou tot die volgende hofverskyning van die beskuldigdes.
Adv Michelle Weyers het die hof meegedeel dat die aanklaer wat die saak sal hanteer, adv Razia Valley-Omar, met die verdediging ooreengekom het, dat die saak finaal vir pleit en verhoor tot 9 Oktober uitgestel kan word.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla. (Deur Garnett Wicomb)