DIE Kannaland-polisiekluster, wat Ladismith en Calitzdorp insluit, het onlangs saam met verteenwoordigers en inspekteurs van die Drankraad, die Kannaland Munisipaliteit en plaaslike buurtwaglede by Oaksrest buite Ladismith vergader.
Die hoofdoel van die indaba was om vas te stel watter impak en invloed drankplekke soos tavernes, nagklubs en ongelisensieerde kuierplekke op inwoners van die streek het.
Smokkelhandel in drank is ook onder die loep geneem. Daar is veral klem gelê daarop dat dranklisensiehouers drank aan smokkelaars verkoop wat dit weer na-ure onwettig verkoop. Die publiek is gevra om foto’s te neem waar sulke smokkelhandel plaasvind, sodat die lisensie van die betrokke drankwinkeleienaar teruggetrek kan word.
’n Soortgelyke vergadering is in Oktober verlede jaar op Calitzdorp gehou waar ’n plaaslike aksiekomitee teen alkohol- en dwelmmisbruik (LDAC) onder leiding van die departement maatskaplike ontwikkeling op die been gebring is.
Die burgemeester van Kannaland, Jeffrey Donson, het ’n pleidooi aan die verteenwoordigers van die Drankraad gelewer en gevra vir strenger voorwaardes by die toekenning van dranklisensies.
“Die toekoms van Kannaland is in die hande van sy leiers, rolspelers soos die polisie, kerke, skole, welsynsorganisasies en die munisipale raad,” het Donson onder applous gesê.
Nog sulke indabas word vir die toekoms beplan waar daar ook bestekopname gedoen sal word. (Deur Deon Meyer)
Kannaland: Polisie, munisipaliteit en drankraad hou indaba
Kannaland se burgemeester, Jeffrey Donson, ondersteun die optrede ten opsigte van drankhandel.
Foto: Deon Meyer