Kanna-polisie maak skoon

’N GESLAAGDE misdaadvoorko­mingsoperasie het verlede week plaasgevind met 115 Mandrax-tablette en 68 tikstrooitjies asook tientalle daggabome waarop beslag gelê is.
Ao Jannie Cedras, woordvoerder van die Ladismith Polisie, sê veral die woonbuurte in Ladismith en Zoar is geteiken omdat dit as “rooi gebiede” beskou word.
“Sewe mense is verlede week in Ladismith en Zoar in hegtenis geneem.
“By ’n bekende dwelmhuis in Sakkiesbaai is beslag gelê op tien tiksakkies. In Rocco Ferusstraat is sestig daggabome gekry.
“Vrydag is ’n huis in Zoar deursoek waar dagga en Mandrax gekonfiskeer is.
“Dieselfde dag is ’n huis in Donsonlaan in Ladismith deursoek en is daar 52 daggabome gekry. By alle deursoekings is lasbriewe gebruik.”
David Opperman, ’n gemeenskapsleier, was in sy noppies.
“Dit is hoe misdaad voorkom moet word. Dit is juis as gevolg van werkloosheid dat jongmense steel om hul dwelmgebruike te finansier. Die gemeenskap sal ook veiliger voel oor die feesgety. Die polisie moet nooit ophou nie, want die dwelmbase hou nooit op om ons kinders se lewens te verwoes nie.”
Dawid Bothman, voorsitter van die Gemeenskapspolisieforum (GPF), het die polisie bedank.
Kapt Henry Edwards, waarnemen­de stasiebevelvoerder, sê die polisie gaan sy fokus gedurende die feesseisoen verskerp.
Hy het gevra dat die gemeenskap voortgaan om inligting aan die polisie deur te gee.
“Alle inligting word streng vertroulik hanteer,” sê hy.

Deur Deon Meyer