Kaalvoet deur die Visrivier Canyon!

Met sy kaalvoete het hy die hele Visrivier-voetslaanroete gestap, wys Katot Meyer, bekende na­tuurliefhebber van Oudtshoorn. By hom is sy vrou, Ilse, wat die roete saam met hom voltooi het.  Foto: Schalk le Roux

Deur Schalk le Roux
KAALVOET deur die Visrivier Canyon – 90 km ver!

Dit is hoe die 71-jarige Katot Meyer, bekende natuurliefhebber van Oudtshoorn, verlede maand dié bekende voetslaanroete in die suide van Namibië gestap en voltooi het.

En dit is nie ’n geringe prestasie nie. Dié voetslaanroete van 90 km lank gaan by tye oor erg ruwe, klipperige terrein.

Katot en sy vrou, Ilse (68), en ’n vriendin Jackie Dowman (74) het die Visrivier van Sondag, 8 Julie, tot Donderdag, 12 Julie, gestap.

Wat Katot se staptog nog meer uitsonderlik gemaak het, is dat hy sy en Ilse se tent, slaapsak, kos vir die vyf dae en nog meer in sy rugsak gedra het.

Ilse het slegs ’n pak of twee marsh mallows, ’n blou plastiekbeker en een van daai blou dun oprol­sponsmatrassies gedra.

Hy en Ilse se onlangse staptog in die Visrivier Canyon is beslis beïnvloed deur sy eerste ervaring daar sowat tien jaar gelede, vertel Katot.

Volgens Katot het hy sowat tien jaar gelede die Visrivier saam met sy seun en skoondogter, Riaan en Jeanne, gaan stap.

“Daardie keer het ek my stewels saamgevat, maar dit ongelukkig by Ai-Ais, waar ons die vo­ri­ge nag geslaap het, vergeet. Ek het dit eers by die beginpunt van die staproete besef. Ai-Ais is 100 km van die beginpunt, wat te ver was om die ste-wels te gaan haal. Ek het toe besluit om sonder die stewels te stap,” vertel hy.

Gewoonlik stap ’n mens die Visrivier saam met groot groepe mense. Volgens Katot voel hy in die natuur nie altyd tuis in groot groepe nie, veral as hy die meeste van hulle nie ken nie.

Hy het toe maar op sy eie tempo gestap en die 90 km-roete in drie dae pleks van vyf dae voltooi. Al teenspoed wat hy destyds gehad het, was ’n sny onder sy groottoon. Hy sê die water in die Visrivier is miniraalryk en het sy toon vinnig genees.

Terwyl destyds so alleen gestap het, het die volgende goed hom gehinder:

• Die wilde perde in die canyon wat nie daar hoort nie aangesien hulle die natuurlike ewewig versteur;

• Vullis wat mense daar los; en

• Mense wat min of meer op dieselfde plekke oornag en dan daar vuurmaak en ’n draaitjie gaan loop wanneer die natuur roep.

Hoewel hulle meest-al hul toiletpapier begrawe, waai die wind dit weer oop en lyk dit nie mooi nie.

“Mense word geestelik en andersins verryk deur die natuurskoon van die Visrivier en omgewing. Die minste wat ons mense kan doen, is om die Visri­vier te versorg en respekteer,” sê hy.

Katot vertel hy het ná sy staptog van 10 jaar gelede die volgende aan die Namibiese natuur-­o­werhede wat na die canyon omsien, voorgestel:

• Dat hulle die perde, wat nie natuurlik daar voorgekom het nie, skiet. Hulle wou egter nie, want hulle was bang dat dit te veel negatiewe pu­blisiteit tot gevolg sal hê;

• Dat mense iets soos ’n lemoensakkie saamvat sodat hulle hul eie vullis of enige ander vullis waar­op hulle op afkom daarin gooi en dit saamdra tot by die einde van die kloof; en

• Dat mense pleks van toiletpapier ’n bottel water en ’n bietjie vloeibare seep saamdra vir wanneer die natuur roep. Stappers kruis die Visrivier ’n paar keer per dag en kan hul bottels hervul soos benodig.

Tweede staptog in die Visrivier

Volgens Katot het hy die Visrivier ’n tweede keer aangedurf omdat Ilse graag wou gaan.

“Ek wou ook gaan kyk of dit wat ek die vorige keer bedink het, in die praktyk sal werk.”

Voordat die groep wat verlede maand saam met hom en Ilse begin stap het, het hy vir hulle leë lemoensakkies gegee asook stukkies koper­draad om dit aan hul rugsakke mee vas te maak. Hy het aan hulle verduidelik dat dit vir hul vullis is asook vir alle ander vullis wat hulle in die omgewing sien.

Die eerste gedeelte van die staproete van die bo-kant van die canyon tot onder in die vallei is baie styl en daal sowat 500 meter oor 2 km.

“Ek besef Ilse, wie se knie ’n tyd gelede seer was, sal waarskynlik sukkel teen die steil afdraend. Ek het toe haar rugsak oor my skouer gegooi en is daar af. Ek het dit egter ’n bietjie oordoen, want my bene was daarna drie dae lank seer en styf!”

Katot vertel hy en Ilse het die roete teen hul eie tempo gestap en nie by die groep gebly nie.

“Ons het aangestoot as ons albei goed voel en dit rustig gevat as een van ons moeg raak. Ons het elke dag verskeie kere die rivierbedding gekruis. Op plekke was dit kwaai klipperig en moes ons dit kalm vat om beserings te vermy. Ons het ook twee middae ná ete ’n rukkie geslaap.

“Saans het ons op ons eie gekampeer.”

Katot vertel die derde aand het hulle naby kran-se tent opgeslaan. “Ek het eers later agtergekom daar woon bobbejane in die kranse. Ek was ná dié dag se stap taamlik ontwater en het gesukkel om aan die slaap te raak. Ilse se gesnork en die bobbejane se reaksie daarop het my nog langer uit die slaap gehou. Wat egter interessant was, is dat ek agterkom gekom het elke bobbejaan het sy eie stemtoon!”

Die Meyers het effens agter geraak by die groep en moes op die laaste dag 24 km stap. Katot vertel hy het sowat 4 km van die einde baie moeg gevoel en het daaror aangedring dat hulle stop en eet.

“Voor ons by die huis weg is, het Ilse vir ons groente gedroog, asook humus, basiliekruid- en neutepesto, en perskes wat in brandewyn gestoof is, gemaak en alles in plastiekroomysbakkies gesit. Verder het ons biltong, droëwors, vrugte, broodjies en rou eiers saam­gevat.”

Met daardie laaste dag se lekker ete agter die blad was Katot se energie terug en kon hulle verder stap. Hulle het skemeraand die eindpunt by Ai-Ais bereik, sowat vier ure ná die groep.

• Hy sê sy plan met die lemoensakkie en houer met water en seep het uitstekend gewerk, en hy kan dit met vrymoedigheid aanbeveel aan alle voetslaners. “Deur dit te doen, help hulle om ons natuurerfenis vir die nageslag te bewaar,” sê hy.

Ilse sê al was die staptog vir hulle albei by tye uitdagend, was dit ’n onvergeetlike ervaring.

“Die voortdurend veranderende landskap was onbeskryflik mooi. Ek het myself selfs verwonder aan al die klippe in die rivierbeddings met hul talle groottes, vorms en kleure. Hoe het hulle daar gekom? Dit was donkermaan toe ons daar was. Die sterrehemel met verskietende sterre was ook uitsonderlik om te aanskou,” vertel sy.

• Katot sê kort nadat hulle tuisgekom het van die staptog het hy ironies genoeg met sy stewels in die veld gaan stap toe ’n pendoring deur die stewel se sool in sy voetsool steek. “Dit het so diep gesteek dat ek byna nie my stewel kon uittrek nie.”

Bo: Ilse Meyer bewonder die skilderagtige natuur van die Visrivier Canyon. Onder: Een van die klipperige gedeelte van die Visrivier se bedding waaroor die Meyers geloop het.

Toe Katot Meyer dié geel blommetjies die eerste keer sien, het hy gedink dit is duwweltjie-plante wat sy kaalvoete behoorlik gaan opkeil. Toe hy die plant mooi bekyk, het dit egter geen duwweltjies gehad nie. Op die foto is Katot se swaargelaaide rugsak sigbaar.