Boere pleit vir droogtehulp

By ’n vergadering verlede Vrydag tussen boere en die Wes-Kaapse MInister van Ekonomiese Geleenthede, Alan Winde (tweede van links), en die Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering en Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell (tweede van regs), was van links Laubscher Coetzee, streekverteenwoordiger: Agri Klein Karoo, Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo, en die DA se politieke hoof vir Oudtshoorn en Kannaland, Tertius Simmers. Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
“AS die regering nie tafel toe kom in my geval nie, gaan ek ’n statistiek word.”

Dié woorde van Jolian du Preez, ’n opkomende boer van De Rust, was verlede Vrydag een van verskeie pleidooie van boere en sakelui aan twee Wes-Kaapse ministers wat die dorp en omgewing op uitnodiging van Agri Klein Karoo besoek het.

Donald Grant, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, en Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering en omge­wing-sake, het Vrydagmiddag saam met Tertius Simmers, die DA se politieke hoof vir Oudtshoorn en Kannaland, met boere by die Safari Volstruis-­skouplaas vergader.

Du Preez, wat betrokke is by saadproduksie en sy plaas verlede jaar met regeringshulp gekoop het, het gesê hy het al in Februarie vir droog­tehulp aansoek gedoen, maar nog geen reaksie ontvang nie. “Ek dink iewers hoër op verstaan mense nie die erns van ons ouens hier se situasie nie.” Volgens Du Preez het hy nog net vier werkmense op sy plaas oor.

Een na die ander boer, verteen­woordigers van die volstruisbe­dryf, sybokhaarboerdery, die tabak­­bedryf, saadproduksie en nog meer, het opge­staan en vertel dat dit baie swaar gaan. Gideon Badenhorst, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheids­kamer, het gesê die uitwerking van die droogtekrisis syfer deur na die dorp se besighede.

Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo, het beaam dat besig-hede die druk in die volstruisbedryf ervaar. “As die landbou bloei, bloei die dorp se ekonomie. Dit is duidelik sigbaar op Oudtshoorn met besig-hede,” het hy gesê.

Laubscher Coetzee, verteenwoor­diger van Agri Klein Karoo by Agri Wes-Kaap, het gesê die Landini-agent­skap op ­Oudtshoorn het reeds sy deure gesluit. “Die droogte het ’n dramatiese impak op die streek,” het hy bygevoeg.

Pieter de Jager van Absa het gesê dat van die gebied se kleiner boere onder soveel kontantvloeidruk is dat hulle hul grond in die mark gesit het, maar dat daar tans nie juis kopers is weens die droogte nie.

“Dis nie ’n mooi prentjie daarbuite nie. Omsette van boere het gehalveer, groentesaadkontrakte moet van die hand gewys word omdat daar nie water is nie, veeboere moet veekuddes dramaties verminder. Daar is net kernkuddes oor.”

De Jager het gesê selfs as dit nou reën, sal die naskok van die droogte nog veel langer duur. “Al reën dit nou, reën dit nie geld nie. Die naskok sal ons minstens ’n jaar later tref

“Ek werk al sestien jaar hier en dit is by verre een van die slegste jare.”

Anton Schoemsn het De Rust se reënsyfers gedeel om insig te gee in die krisissituasie in die streek: 2011 – 388 mm; 2012 – 393 mm; 2013 – 340 mm; 2014 – 340 mm; 2015 – 317 mm; 2016 – 209 mm; 2017 – 159 mm; en 2018 (tot dusver) – 66 mm.

Weeber Truter van die Herold Land­bou­vereniging het ook gevra vir rege­rings­­hulp met die sekuriteitsituasie op plase. “As een boer in ’n plaasaanval sterf, ly 500 tot 1000 mense daaronder.

“Ons wil vir julle kosgee. Ons wil hier­die land voed,” het hy bygevoeg.
In reaksie het Winde gesê die regering sal aandag skenk aan moontlike droogtehulp, maar dat slegs R63miljoen van sowat R163miljoen vir rampbestuur aan die Wes-Kaap bewillig is.

“Ek mag ook net geld aan mense uitbetaal as daar probleme in die veebedryf is.”

Volgens hom is daar gesprekke om te probeer om ander bedrywe ingesluit te kry.

Hy het boere gewaarsku dat droogtes as gevolg van klimaatsverandering gaan toeneem en dat almal kreatief en nuut sal moet dink oor hoe om in die toekoms volhoubaar te boer.