DIE saak teen die vier verdagtes in die moordsaak van Justin Booysen (30) wat op Sondag 17 November 2019 in sy huis in Bella Rosasingel in Rosebank, Oudtshoorn doodgeskiet is, is Maandag in die landdroshof tot 2020 uitgestel nadat al vier besluit het om nie vir borgtog aansoek te doen nie.
Simphiwe Ndoni, Ebrahim Malgas, Breyton Bruiners en Lorenzo Malgas, staan tereg op klagtes van moord en aanranding om ernstig te beseer.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, was die skietery na bewering bendeverwant.
Ndoni, Ebrahim Malgas en Breyton Bruiners is dieselfde dag van Booysen se moord in hegtenis geneem en Lorenzo Malgas die Dinsdag na die moord.
Die saak dien voor landdros Theolin November en is vir verdere ondersoek tot 16 Januarie 2020 uitgestel.
Booysen is Saterdag vanuit die Nevada Gemeenskapsaal begrawe. Sy dood volg net meer as drie maande op die dood van sy jonger broer Dueron Saptou (27) wat op 10 Augustus ná ’n motorfietsongeluk in Langenhovenweg gesterf het.
Deur Garnett Wicomb