Jillian Damons is Oudtshoorn se Miss Full Figure

Jillian Damons (middel) dra vanjaar die Miss Full Figure Oudtshoorn-kroon. Saam met haar is Kyla Delport (links), tweede prinses, en Nadia Pretorius (regs), eerste prinses. Foto verskaf.

Die 18-jarige Jillian Damons is Vrydagaand, 28 Augustus, as Miss Full Figure Oudtshoorn 2026 gekroon tydens die kompetisie by die Toekomsrus Gemeenskapsaal, waar 16 vroue vanuit die omgewing aan die eindronde deelgeneem het. Nadia Pretorius is as eerste prinses aangewys en Kyla Delport as tweede prinses.

Volgens organiseerder Rodney Gelant het die aand veral gewys hoeveel selfvertroue die deelnemers oor die afgelope twee maande opgebou het.

Die Karoo was deurgaans deel van die aand se tema, met Karoo-elemente wat ook in die dekor ingespan is. Volstruisvere het die tafels versier en ’n volstruisnes is as fotohoek ingerig waar gaste foto’s kon neem.

Damons, van Oudtshoorn, is deur ’n paneel van 11 beoordelaars as wenner aangewys. Veritè Ann du Toit, stigter en direkteur van Panache Fashions, was die hoofbeoordelaar.

Die ander beoordelaars was Jean Pierre Whittingstall, Darren Leigh Maree, Ursula Balie, Liezl Wilkens, Ansie van Rensburg, Verity Gelderbloem, Nirvana Gysman, Salome Plaatjies, Kay-lee Nichols (Piedt) en Elresha Mei.

Gelant beklemtoon dat hy nie by die besluit oor die wenner betrokke was nie, maar sê Damons het gedurende die aand vir hom uitgestaan.

“Na twee maande se oefening met die vroue het ek gevoel dat Jillian werklik die kroon verdien het. Sy het ’n lewendige persoonlikheid en karakter, en die manier waarop sy haarself ten toon gestel het, was Miss Full Figure Oudtshoorn 2026 werd,” sê hy.

Verskeie ander titels is ook tydens die aand toegeken. Tamson Leeuw is as Miss Personality aangewys en Joslyn Bezuidenhout as Miss Photogenic. Jodine Buys het die Miss Social Media-titel gewen nadat haar foto meer as 26 000 kyke op sosiale media gekry het.

Damons, Pretorius en Delport sal saam met Shalana Baartman en Esmewayda Ruiters na Miss Full Figure Garden Route deurdring.

Leeuw kwalifiseer ook op grond van haar plasing as eerste prinses in die vorige kompetisie, terwyl Miss Full Figure Oudtshoorn 2022, Elrisha Avontuur, vanjaar ook aan die Garden Route-kompetisie sal deelneem.

Een van Gelant se grootste hoogtepunte was om te sien hoe die deelnemers hulself op die verhoog voorgestel het. Volgens hom was dit vir sowat 95% van die 16 deelnemers hul eerste keer as model op ’n verhoog.

“Die manier waarop die vroue hulself met selfvertroue en hul eie persoonlikhede voorgestel het, was vir my die hoogtepunt. Hulle kon wys wie hulle is en waarom hulle deelneem,” sê Gelant.

Hy sê die groei wat hy by sommige deelnemers gedurende die twee maande se voorbereiding gesien het, het ook gewys dat die kompetisie oor meer as die kroon gaan.

Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Jan van der Ross, het die opening behartig, terwyl Salome Plaatjies, Susanna Botha en raadslid Christine Muller as sprekers opgetree het.

Paul Amas was die seremoniemeester, met Gail en Malcolm Arendse, Rubber Johnny en Elvine Oosthuizen wat vir vermaak gesorg het. James Dido was die DJ vir die aand.

Na die kroning het Damons vertel dat sy geseënd voel om Miss Full Figure Oudtshoorn 2026 te wees.

Die fokus verskuif nou na die Miss Full Figure Garden Route-eindronde, waarvoor die Oudtshoorn-deelnemers reeds begin voorberei.

Die datum en verdere besonderhede sal bekendgemaak word sodra dit deur die organiseerders bevestig is.