DIE Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) het vanjaar die derde keer provinsiaal erkenning gekry vir die massiewe werk wat hulle onder die jeug van Oudtshoorn doen toe hulle weer ’n finalis was in die afdeling Beste Rekreasieorganisasie by die Wes-Kaapse Sporttoekenningsfunksie op 5 Maart in Kaapstad.
“Daar is mense wat sien wat ons doen om ’n verskil in jongmense se lewens te maak,” sê Phillip Seroux, projekbestuurder van die forum, wat ’n finalis-toekenning tydens dié glansgeleentheid namens die OCJF van die Wes-Kaapse minister van Kultuursake en Sport, Anroux Marais, ontvang het.
Die OCJF is in 2017 aangewys as die Wes-Kaapse wenner, as die Re-kreasievereniging van die Jaar en daarna as naaswenner in die nasionale kompetisie. Hulle is verlede jaar by die Eden Sporttoekenningsfunksie aangewys as beste rekreasievereniging in die streek en het so ’n derde keer deurgedring na die provinsiale kompetisie.
Volgens Seroux het Covid-19 die organisasie se bedrywighede die afgelope twee jaar erg gekortwiek, maar is daar nogtans verskeie projekte vir die jeug aangebied.
“Ons sien daarna uit om vanjaar weer volstoom met die forum se bedrywighede voort te gaan en ná twee jaar weer ons Jeugfees in Junie en ons Erfenisfees in September aan te bied.”
Seroux kan vir besonderhede oor die forum by 079 987 9486 gekontak word. (Deur Garnett Wicomb)
Jeugforum 3de keer Wes-Kaapse finalis
Phillip Seroux by die Wes-Kaapse Sporttoekenningsfunksie. Foto verskaf