Fritz Jacobs en Tammy Weyers. Foto Facebook
Deur Angelique Erasmus
TWEE Oudtshoorniete wat verlede week opspraak verwek het toe hulle met ’n Hyundai-bakkie van Badenhorst Slaghuis en ’n “groot bedrag geld” verdwyn het, verskyn Vrydag (5 Oktober) in die hof op Oudtshoorn om vir borgtog aansoek te doen.
Frederick Jacobus Francois Jacobs, ook bekend as Fritz Jacobs, en ’n vriendin, Tammy Michelle Weyers, is vroeg Donderdagoggend op Kysna in hegtenis geneem en het ’n eerste keer verlede Vrydag slegs vlugtig in die hof verskyn.
Die hof wou nie Vrydagoggend ’n pleitooreenkoms van Jacobs aanvaar nie.
Jacobs en Weyers verskyn in verband met die diefstal van ’n groot bedrag geld en die gebruik van ’n bakkie van Badenhorst Slaghuis sonder die toestemming van die eienaar.
Albei is steeds in aanhouding.
Jacobs, wat tydens die hofverskyning Vrydag geklee was in ’n bruin broek, swart hemp en leerbaadjie, het die hele tyd strak voor hom uitgestaar. Weyers was geklee in ’n pienk denimbroek en swart Nike-baadjie.
Jacobs en Weyers het ook albei aansoek gedoen om regshulp.
• Oudtshoorn was sedert verlede Woensdag in rep en roer nadat dit bekend geword het dat Jacobs en Weyers verdwyn het. Jacobs is die oggend laas gesien toe hy met die bakkie van sy werkgewer, Badenhorst Slaghuis, op pad was na die bank om geld te gaan bank. Weyers het nie die middag by die Oudtshoorn Country Club vir werk opgedaag nie.
Bennie Byleveld, mede-eienaar van Badenhorst Slaghuis, het op Facebook geskryf die paartjie is vasgetrek nadat iemand wat op Facebook gelees het van hul verdwyning, hulle omstreeks 05:00 Donderdag op Knysna gesien en Byleveld gekontak het. Die bakkie en ’n groot deel van die geld wat saam met hul verdwyn het, is teruggevind. Byleveld het aangedui dat Jacobs, wat as gesondheid- en veiligheidsbestuurder vir die slaghuis gewerk het, nie meer in die slaghuis se diens is nie.