Maandag is ’n Jack Russel wat met ’n leiband agterop ’n bakkie in die son op die Queen’s Mall-parkeerterrein vasgemaak was, deur die bestuurder van een van die winkels bevry en in die koelte vasgemaak en water gegee. Volgens omstanders was die hondjie sowat 45 minute in die son en het hy getjank, geblaf en getrippel soos sy pote gebrand het.

Dié jong hondjie van sowat agt weke oud is gister omstreeks 12:30 deur Colleen Smith van Oudtshoorn Dogs in Needs (ODIN) uit ’n warm bakkie op die Checkers-parkeerterrein gered. Daar was geen kos of water in die bakkie nie, met die hondjie onder die stuurwiel vasgebind. Volgens sekuriteitsbeamptes was die bakkie reeds vroegoggend op die perseel. Die bakkie se eienaar was glo voor Die Hoorn se aankoms op die toneel. Smith het ’n waarskuwing aan hom uitgereik waarna hy die hondjie vrywillig aan ODIN oorhandig het.