Inwoners gesels Dinsdag vroegaand saam oor volgende jaar se KKNK. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
KLEIN KAROO-ERVARINGE soos sterrekyk saans, ’n toer na onbekende grotte in die Swartberge en ’n fliekaand op ’n sokkerveld in Lategansvlei.
Sitkamerkonserte, ’n ruimte waar produsente van die Klein Karoo asook die Weskus en Noord-Kaap hul produkte aan feesgangers kan bekend stel en die plant van bome deur bekendes.
Dit was Dinsdagaand net enkele van inwoners se voorstelle vir 2020 se KKNK by ’n vergadering waarheen die KKNK inwoners van Oudtshoorn genooi het.
Sowat 50 inwoners het geesdriftig by die Klein Karoo Ostrich Emporium op die dorp saamgesels en voorstelle gemaak vir volgende jaar se fees.
Inwoners het ook verskeie voorstelle gemaak oor hoe om jonger feesgangers te betrek aangesien hulle die feesgehore van die toekoms gaan wees – onder meer deur skryf- en drama-werkswinkels. Daar is ook voorgestel dat gesprek gevoer moet word met die talle kreatiewe jong inwoners van die dorp oor wat hulle behoeftes ten opsigte van die fees is.
Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, het ’n beroep op inwoners gedoen om nie net voorstelle te doen nie maar ook die KKNK by te staan deur bereid te wees om betrokke te raak by van die projekte wat hulle voorstel.
Volgende jaar se 26ste KKNK vind vanaf Dinsdag 24 Maart tot Sondag 29 Maart op Oudtshoorn plaas.