Huishulp kry tronkstraf vir steel van ringe

’N MA van drie volwasse kinders en twee kleinkinders van Oudtshoorn wat haar werkgewer se ringe gesteel en aan diefstal skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof gevangenisstraf van vier jaar opgelê.
Elizabeth Kawa (51) is daarvan aangekla dat sy 15 ringe van sowat R90 000 van haar werkgewer, Susan Barnard, gesteel het.

Sy het aanvanklik net skuldig gepleit dat sy twee ringe gesteel het, maar later ook vir die diefstal van ’n derde ring nadat bewyse gelewer is dat sy dit aan Cash Crusaders verkoop het.

Slegs laasgenoemde ring wat sy vir R2 000 verkoop het, is teruggevind.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om ’n vonnis op te lê wat ’n duidelike boodskap uitstuur vir voornemende diewe en dat daar geen bewys voor die hof is dat die be­skuldigde se kleinkinders in haar sorg geplaas is nie.

Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê Kawa was in ’n vertrouensposisie wat sy misbruik het.

Volgens die landdros het sy geen berou getoon nie en het sy net dinge erken waarvan daar bewyse voor die hof gebring is.

Sy het nie verantwoordelikheid aanvaar vir wat sy gedoen het nie. Die landdros het gesê Kawa kan nie verwag dat die hof sag met haar moet wees omdat sy ’n vrou is nie. Die klaer het Kawa voorts ’n deel van die huisgesin waar sy gewerk het, gemaak en sy is ook vertrou met die sleutels van die private deel van die woning.

Die landdros het bygevoeg dat hoewel die belange van die slagoffer en die gemeenskap in ag geneem word, die beskuldigde nie op ’n “altaar van afskrikking” geplaas moet word nie.

’n Opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig sal egter nie ’n gepaste vonnis wees vir die misdaad wat die beskuldigde gepleeg het nie, omdat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis is.

Die hof was ook van mening dat Kawa baie meer baat sal vind by direkte gevangenisstraf omdat programme en kursusse deur die departement korrektiewe dienste aangebied word vir rehabilitasie en hervorming.

“Die gemeenskap sien opgeskorte vonnisse as net ’n tik op die hande,” het die landdros byge­voeg. Kawa is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)