Huis vir haweloses wroeg met eie stryd

Die Ithemba Huis vir Haweloses in Jubileestraat. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE insident rakende ’n hawe­lose man, Eugene van Vuuren, wat twee weke gelede weggewys is by Oudtshoorn se Ithemba Huis vir Haweloses in Jubi­leestraat, was bloot net ’n groot misverstand wat nooit moes gebeur het nie.

So het lede van die beheerliggaam van dié nie-winsgewende organisasie Vrydag in ’n gesprek met Die Hoorn gesê. Hulle het verder beklemtoon dat die saak onmiddellik met inwoners van die huis aangespreek is, en dat so iets nooit weer sal gebeur nie. “Die insident is verkeerdelik deur die mense wat hier bly gehanteer,” het voorsitter Jan Ayford gesê.

Die beheerliggaam, wat voor­kom as ’n passievolle groep mense wat selfs van hul eie tyd en fondse opoffer om haweloses te help, sê dat so ’n insident nooit in die eerste plek moes plaasvind nie. Lede het al voorheen op tye teen middernagtelike ure reageer wanneer iemand in nood was en hand bygesit waar dit vir hulle moontlik was, het hulle gesê.

Ithemba se visie en missie weerspieël hierdie gebaar. Die visie sê dat geen persoon op straat mag slaap nie, en dus is die missie om verligting te bring.
Volgens Ayford het die huidige beheerliggaam eers oorgeneem toe Ithemba nie meer onder die departement maat­skap­like ontwikkeling (DMO) geval het nie. Tans ontvang Ithemba ’n subsidie by die DMO om 10 beddens te befonds. Daar is ook tans 13 inwoners by Ithemba.

Met hierdie subsidie moet ’n maatskaplike werker en ’n kok se salarisse betaal word, kos aangekoop word en vir water en krag betaal word.

“Ons kan die huis nie effektief bestuur met die huidige subsidie nie. Met die Covid-pandemie trek ons nog swaarder omdat ons weens regulasies nie fondsinsa­melings kan hou nie. Ons hande is afgekap,” het Ayford gesê.

Die bestuur is tans besig om self sakeondernemings te nader vir donasies. Die bestuur sê daar is groot nood by Ithemba aan ’n yskas, kos en noodhulp-items.

Indien inwoners van Oudts­hoorn hulp wil verleen of wil bydra, kontak Ithemba by 066 168 6711 en vra om met die maatskaplike werker te praat of vir die kontakbesonderhede van een van die bestuurslede.

• Toe die storie oor Eugene, een van duisende haweloses reg­oor Suid-Afrika, in Die Hoorn gepubliseer en op ons Facebook-blad geplaas is, is boodskappe van steun vir Eugene en Ithemba vanoor die land ontvang.

Dit was duidelik dat baie Oudtshoorniete, en selfs mense buite die dorp se grense, omgee en wil betrokke raak.

Eugene het gister gesê dat die reaksie wat hy van mense vanoor die land ontvang het, wonderlik was.

“Dit was fantasties, en ’n seën van God! Ek werk nou, en dit gaan baie goed!” het hy opgewonde vertel.

Eugene woon steeds in Ithemba omdat hy nog nie ’n ander heenkome kon vind nie, en sê dat hy baie gelukkig is daar.

Volgens Eugene wil hy hê dat al die goedgesindheid wat hy ervaar het, nou moet oorskuif na Ithemba toe.

“Hulle was nog net goed vir my na die insident, en ek wil hê dat mense hulle moet help.

“Hulle het ’n groot nood aan baie goed. Ek dink klere is een van die nodigste items,” het hy gesê.

’n Betrokkene by Ithemba het Die Hoorn gister versoek om nie dié berig te plaas nie, en aangedui dat die bestuur baie kritiek moes verduur sedert ver­lede week se berig.

Die Hoorn het wel enkele dele van dié berig ver­ander om Ithemba tegemoet te kom. (Deur Stefan Skapie Goosen)