Huis Triomf seuns, bederf met swembad

Christo Nel, direkteur van Huis Triomf en Crystal Muller (bestuurder) by die swembad wat 23 seuns se harte baie bly gemaak het ná twee jaar van fondse insamel. Foto: Lindi Brill

Na twee jaar van beplanning en fondsinsamelingsprojekte, het Huis Triomf in Oudtshoorn uiteindelik die droom verwesenlik om vir die inwonende seuns ’n swembad te kan gee, wat verlede Woensdag, 24 Julie, afgelewer is.

Huis Triomf is ’n instansie wat vir kinders sorg wat deur die Kinderhof daar geplaas word. Dit is geregistreer as ’n nie-winsgewende organisasie (NWO) by die Departement van Sosiale Ontwikkeling as ’n jeugsentrum.

Roelof Kwant, die voorsitter van Huis Triomf, het twee jaar gelede die idee gekry om fondse in te samel en vir die seuns te bederf met ’n spesiale geskenk.

“Ek het vir hulle gevra wat hul grootste droom is en wat hul harte sal bly maak, en dit was ’n eenparige antwoord dat hulle graag hul eie swembad by die tehuis wil hê”, het Kwant gesê.
Baie mense se oop harte en samewerking het hierdie droom verwesenlik.

Volgens Christo Nel, ’n direkteur van Huis Triomf, is hulle veral dankbaar vir mense soos Willem Hintza, van Wolito’s Konstruksies, wat die gat vir die swembad gegrawe het en slegs vra dat sy werkers se lone betaal word, Danie by Van der Berg Vervoer wat sand geskenk het en elke liewe persoon wat onbaatsugtig hulp met die projek verleen het.

Op die oomblik huisves Huis Triomf 23 seuns, waarvan die jongste 5 jaar oud is en die oudste 17 jaar. Die huis is egter ingerig om 60 seuns te kan huisves. Daar is 12 personeellede wat omsien na die seuns.

Volgens Nel het Wilma Pienaar van die Oudtshoorn Sportinisiatief ook gereël met Susan Juta van FCA Aquatics Club, om vir die seuns waterveiligheidsafrigting aan te bied sodra die swembad in gebruik geneem kan word. Juta is ook ’n lid van die Oudtshoorn Sportinisiatief in Oudtshoorn.

“Ons wil graag vir die seuns ’n huislike omgewing skep, asook ’n veilige hawe waar hulle voel dat hulle behoort en liefde en omgee ervaar en waarop hulle kan trots wees”, het Nel aan Die Hoorn gesê.

Behalwe die installering van die swembad, is daar ook ander opgraderings aan die huis gedoen. Die badkamers is oor geverf, baddens is vervang met nuwe stort areas en nuwe wasbakke en toilette is ingesit.

Die kombuis en spens is ook opgradeer en die gange is oor geverf en versier. Buite is geute aangebring met Jojo-tenks, die mure geverf en klippies is in die oprit gegooi. Saam met die swembad is daar ook ’n ‘volleyball’-baan vir die kinders aangebring om te geniet.

Wat egter net so opwindend is, is die drie splinternuwe rekenaars wat in die verbeterde rekenaarkamer geïnstalleer is.

“Ons wou graag vir die seuns ’n rekenaarkamer skep om hulle met tegnologie te voorsien om hulle te help met hul skoolwerk”.

Alhoewel Huis Triomf R237 500 per maand van die staat kry om hul uitgawes te betaal, is hul maandelikse uitgawes R260 000. Die tekort probeer hulle dan inbring deur middel van fondsinsamelings.

Die bedrag wat hulle per jaar moet insamel is R276 000 om die begroting te laat klop. Wat hierdie bedrag ook meer maak is die bykomende uitgawes wat hulle het soos die beloning vir goeie gedrag vir die seuns, sporttoerusting, WiFi en ’n program wat die seuns se ou klere vervang.

Daar is ook planne om ’n binnenshuise ontspanningsarea en ’n tuiswerklokaal vir die seuns te maak, asook om ’n skoolbus aan te skaf om die seuns te vervoer.

Enige iemand wat voel dat hulle kan bydra met skenkings of enige bystand met projekte kan lewer kan vir Crystal Muller, die bestuurder skakel by 044 272 3234. (Deur Lindi Brill)