Huidige droogteramp nog nie verby nie

Dr Gideon Groenewald verlede Donderdagaand by La Plume op Volmoed buite Oudtshoorn aan die woord. Groenewald is deur Bartel du Toit, eienaar van La Plume, genooi om met Oudts­hoorniete te kom gesels oor sy wetenskaplike voorspellings oor die huidige droogte en wanneer reën weer verwag kan word. Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE Klein Karoo is tans vasgevang in ’n droogtesiklus wat na verwagting eers oor twee en ’n half tot drie jaar gebreek gaan wees. Gemeenskappe en munisipaliteite moet hiervan kennis neem en hulle daarop voorberei.

Dit was verlede Donderdagaand die boodskap van die geoloog en paleontoloog dr Gideon Groenewald toe hy met inwoners van die dorp en ’n groot groep boere oor die herhalende siklusse van droogte en reën by La Plume op Volmoed gesels het.

Groenewald, wat ook as hidroloog vir die orga­ni­sasie Gift of the Givers boorgate sink, grond sy “voorspellings” oor droogtes en reën op sy jarelange navorsing van gesteentes uit die verlede en wat hy daaruit van die voorkoms en die lengte en herhaling van droë en nat siklusse geleer het.

Hy het vertel hy het onder meer 20 jaar gelede al die Karooberge in 10 cm-intervalle opgemeet om te kyk watter “storie” elke kliplagie vertel oor wat tussen 200 en 300 miljoen jare gelede gebeur het; ook wanneer dit droog was en wanneer dit nat was en wat tydens daardie tydperke gebeur het. Dié taak het hom 11 jare lank besig gehou en gelei tot die publikasie van ’n boek.

“My gesegde is dat die verlede ’n sleutel is tot die toekoms.”

Groenewald sê die huidige droogte in Suid-Afrika is werklik ’n ramp wat deur inwoners van Suid-Afrika bestuur sal moet word; iets wat moontlik is omdat die wetenskap genoeg inligting gee oor hoe lank dit sal duur. Hy waarsku ook dat ’n droogte wanneer hy einde se kant toe staan erger word.

“Ongelukkig groei ’n droogte sy tande soos hy ouer word en begin hierdie droogte nou sy tande slyp.

“Die wetenskap sê vir my ons het nog twee harde jare in hierdie land.

“Ons moet vir mense sê die droogte gaan nie nou ophou nie. En dit moet bestuur word. Ons moet ook die hele Suid-Afrika leer dat hier ’n droogte in die land is.”

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die gevaar dat dié huidige natuurramp kan oorgaan in ’n humanitêre ramp waar mense mekaar gaan aanval oor water.

“Die getal verbruikers in Suid-Afrika raak te veel vir die water beskikbaar.”

Volgens hom kan ’n stad soos Johannesburg teen November sonder water wees, terwyl hy ook gewaarsku het dat Kaapstad ook weer ’n waterkrisis kan ervaar, veral as inwoners daar nie voortgaan om water spaarsaam te gebruik nie.

Volgens Groenewald toon die geskiedenis dat ’n kwaai droogte soos die huidige dikwels opgevolg word baie swaar reën en vloede, en dat dit ook ’n moontlikheid is waarop inwoners van die Klein Karoo hulle moet voorberei.

• Groenewald wat landwyd boorgate vir die hulpgroep Gift of the Givers sink en baie groot sukses daarmee behaal, het in antwoord op ’n vraag gesê daar is slegs ’n twee kilometer-strook bekend as die

Kango-formasie waar suksesvol vir vars water in die Oudtshoorn-omgewing geboor kan word.

Op Oudtshoorn self is die water volgens hom te sout vir boorwerk en is dit eintlik “giftig”.

Omdat Oudtshoorn daarom hoofsaaklik afhanklik is van reënwater as waterbron, is ’n watertenk by ’n huis ’n goeie en verantwoordelike belegging, het hy gesê.