Sakkie Goliath (71).
Deur Liesel le Roux
’N OUD-KOERANTVERKOPER van Die Hoorn en bekende gesig op die dorp, Isak (Sakkie) Goliath, is Maandagoggend in sy huis in Bridgton oorlede.
Goliath het kort nadat die eerste uitgawe van Die Hoorn in Januarie 2001 verskyn het, kom vra of hy weekliks kan help om Die Hoorn op straat te verkoop.
Hy was daarna jare lank elke week getrou op sy pos en het in ’n stadium ook as bode vir Die Hoorn gewerk en ook afleweringswerkies vir ander besighede gedoen.
Goliath het tot begin 2018 nog Die Hoorn verkoop.
Volgens Goliath se jongste dogter, Solene Pretorius, is haar pa verlede week met prostaatkanker in die Oudtshoorn Hospitaal gediagnoseer.
Daar is toetse op hom gedoen en hy is Vrydag uit die hospitaal ontslaan, maar het erge pyn ervaar, sê sy.
Volgens Pretorius, wat haar pa versorg het, het pynmedikasie wat hy ontvang het, hom in ’n mate gehelp om die pyn wat hy verduur het, te hanteer, maar kon sy sien dat hy swaargekry het.
Goliath word oorleef deur drie dogters, Jenine May, Jeveline May en Solene, asook vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders.
Sy vrou, Magdalene Pretorius, is vier jaar gelede oorlede.
Goliath word Saterdag om 11:00 vanuit die UCC-kerk in Bridgton begrawe. Die diens by die huis in Tiende Laan 1567 is om 10:00.