Hospitale reg vir Covid-piek

OUDTSHOORN se hospitale is gereed vir enige aanslag wat die Covid-19-pandemie mag bring, veral met die oog op die Wes-Kaapse infeksiepiek wat volgens die regering sy toppunt einde Julie sal bereik.

Met die aantal positiewe gevalle in die dorp wat die afgelope maand skerp begin styg het, is reeds agt sterftes aangeteken.

Volgens dr Charles Dreyer, mediese dienstebestuurder van die Oudtshoorn-subdistrik, is die Oudts­hoorn Hospitaal in Parkweg slaggereed.

“Vandat gevalle in Oudtshoorn die laaste drie weke begin toeneem het, het ons ons prosesse verfyn om die toename te hanteer,” sê hy, en voeg by dat hulle reeds van die begin van die pandemie voorbereid was.

Volgens Dreyer is daar reeds verskeie maatreëls in plek, soos ’n saal spesifiek vir positiewe gevalle, en ’n proses waar oorvol sale vermy kan word met ’n kwarantynspasie buite die hospitaalterrein.

Hy sê die aantal toetse die laaste ruk by die hospitaal het skerp toegeneem, met 30 tot 45 mense wat tans per dag getoets word. Toetse wat elders gedoen word, lig die syfer na 45 tot 60, waarvan vyf tot 10 gevalle positief kan wees.

Tans is daar geen gevaar dat die hospitaal oorvol kan raak of ’n terkort aan beddens kan ontstaan nie, sê Dreyer.

Mediclinic Klein Karoo
Hannes Stegmann, algemene bestuurder by die Mediclinic Klein Karoo, sê Mediclinic se aktuarisse verwag die piek in die privaatsektor in die Wes-Kaap begin September.

“Dit is baie moeilik om ’n akkurate vooruitskatting van die pande­mie te maak, omdat die koers waar­- teen Covid-19-gevalle verdubbel, afhang van baie faktore, soos hoe streng Covid-maatreëls by die werk en veral sosiaal en na-ure toegepas word.

“Tans is 490 pasiënte by die Covid-toetsstasie getoets waarvan 48 (10%) positief was. Hiervan is 14 pasiënte (29%) in die hospitaal opgeneem vir behandeling. Ons het nog geen Covid-verwante sterftes gehad nie,” sê hy.

Toetsing het hier wel kapasiteit bereik, volgens Stegmann. “As gevolg hiervan word Covid-toetse vir die publiek nie meer gedoen indien geen Covid-simptome ondervind word nie en geen hertoetse van diegene wat Covid-positief getoets het gedoen na 14 dae van isolasie nie.”

Stegmann sê die Mediclinic is soos die Oudtshoorn Hospitaal slaggereed. “Die noodeenheid, sale en teaters is verdeel in ’n Covid- en ’n nie-Covid-deel.”

Verpleegpersoneel het verdere ICU-blootstelling en -opleiding gekry by die Mediclinic George. Dié privaathospitaal sal ook staatspasiënte ontvang indien dit nodig raak, luidens ’n ooreenkoms met die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid. (Deur Stefan Skapie Goosen)