Hope komberse as deel van 67 Blankets-projek geskenk

Die lekkerste van die 67 Blankets-projek is om die waardering vir die mooi handewerk op ontvangers se gesigte te sien, sê Madeleine Miles wat die projek op Oudtshoorn lei. “Party mense kan kan nie glo dat iemand vir hulle so ’n kombers gehekel of gebrei het nie.” Heelbo is van Oudtshoorn se ontvangers van gehekelde komberse en links twee van die pragkomberse met die mooi Klein Karoo op die agtergrond. Foto’s verskaf

OUDTSHOORN se reWOLusie-pro­- jek wat die dorp verlede jaar en vanjaar tydens die KKNK met brei- en hekelwerk verfraai het, het pas weer groot blydskap verskaf deur as deel van die landwye 67 Blankets-projek handgemaakte komberse in die gemeenskap uit te deel.

“Ons het komberse uitgedeel aan inwoners van Helen Bellinghanhof, Coronation Memorial, Eljada Nasorg, ACVV De Rust en individue waar ons geweet het die nood is groot,” vertel Madeleine Miles, die stukrag agter die projek.

“Die Oudts­hoorn Hospitaal en Toekomsrus Kliniek het komberse gekry om uit te deel aan babas. En die betrokkenes by die projek het verder gehelp om nood te identifiseer – by kerke en in die gemeenskap. So is daar byvoorbeeld verlede week komberse in Dassieweg uitgedeel.”

Van die komberse is uitgehou en was beskikbaar vir “ruilhandel” waar­mee inwoners twee of drie dik, warm winterkomberse kon ruil vir ’n gehekelde kom­bers.

“Deur hierdie ‘ruilhandel’ kon ons amper drie keer meer komberse bymekaarmaak,” sê Madeleine.

Van hierdie dik warm komberse is by die seuns by Huis Triomf afgelaai.
Madeleine sê die projek hoop om binnekort nog gehekelde komberse beskikbaar te stel vir “ruilhandel”.

“Almal van ons by die reWOLusie is bevoorreg om ’n verskil te kan maak.
“Mense is geneig om te dink dat hulle net ’n verskil kan maak in die gemeenskap deur finansiële bydraes en skenkings. Die reWOLusie het ons almal egter die les geleer dat jy deur net jou tyd te gee en vaardighede te gebruik ’n enorme verskil kan maak.”