Die Attakwas Extreme, ’n bergfietsren wat oor 120 km strek vanaf Oudtshoorn na Groot Brak- rivier, is vanjaar vir die 20ste keer aangebied deur Dryland Events Management. Verskeie Oudtshoorniete het vanjaar deelgeneem aan die volle 120 km, asook die Attakwas Half van 47 km en die Attakwas Mini van 32,3 km.
Meer as ’n 1 000 fietsryers het vanjaar deelgeneem. Altesaam 850 het die Extreme aangepak, 150 die Half en 50 die Mini.
Om die 20 jaar mylpaal te vier, is daar ’n nuwe roete van ongeveer 40 km uitgemerk en deelnemers het ook ’n ekstra uur gehad om die Attakwas te voltooi, met die afsnytyd wat na 20 ure verleng is.
Die Hoorn het met Oudtshoorniete gesels wat vanjaar aan die uitdagende bergfietsren deelgeneem het.
Yolande de Villiers vertel dat die verandering aan die eerste gedeelte van die roete fantasties was, en lekker vloei, alhoewel dit nie maklik is nie. “Dis nie maklik nie, jy moet taai wees en dit is brutal, maar ek het dit baie geniet.” Volgens haar is die klimme baie steil en grof, en die afdraandes is net so woes. Hierdie was De Villiers se 12de Attakwas. Sy het dit in 06:04:33 voltooi en was die 10de vrou oor die eindstreep.
Alewyn Vorster, onderhoof van Langenhoven Gimnasium, het vanjaar die bergfietsren vir die eerste keer aangedurf. Hy vertel dat die eerste 40 km lekker was om te ry, maar vir sy eerste poging was dit uiters uitdagend.
“Die Attakwas toets ’n mens se tegniese vaardighede met al die opdraandes, afdraandes en baie klippe.” Vorster het eers Vrydagmiddag ingeskryf nadat hy die lekker koel weersomstandighede gesien het.
“Wat vir my opvallend was, was die ongelooflike mooi landskap wat verander vanaf die Karoo na fynbos en woude toe.” Hy is nie seker of hy dit weer sal doen nie, veral nie as dit warm is nie, maar dit is vir hom ’n boksie wat hy nou kan afmerk.
Nog ’n gereelde deelnemer in die fietsrykringe is Hans van der Veen. Hy vertel dat hierdie Attakwas beslis die beste weer gehad het, tesame met die roete aanpassings het dit vinnige tye verseker. “Die historiese verbintenis van die Attakwas Kloof, met bouvalle wat al eeue oud is, maak dit besonders om daar te ry.” Volgens hom bied Dryland ’n wêreldklas-geleentheid aan.
“Die kwaliteit van inskrywings en deelnemers is vir my die beste nog. Daar is ’n lekker gevoel tussen die ryers wat bydra tot die atmosfeer van die geleentheid.” Hy wens Dryland baie geluk met ’n suksesvolle en pragtige vertoonstuk van die streek.
Jaco van Molendorff vertel dat dit tot by die tweede waterpunt relatief maklik was, totdat hulle die Attakwaskloof bereik het. “Ek het ’n paar valle ingekry, maar dis maar deel van die Attakwas,” skerts hy.
“Dit is hoekom dit die Attakwas Extreme is, daar is iets van alles.” Volgens hom was dit briljant georganiseer deur Dryland, en het hulle vanjaar perfekte weerstoestande gehad.
Alejandré Nel (15), het aan die Attakwas Half deelgeneem en die 47 km in 10:30:02 voltooi. Hy was sesde in sy ouderdomsgroep en algeheel 37ste. “Dit was baie lekker, maar steeds ’n uitdaging.” Nel voeg by dat hy reeds uitsien daarna om volgende jaar weer deel te neem.
Bykans 20 Oudtshoorniete het vanjaar aan die verskillende afstande van die Attakwas deelgeneem. Dit wil gedoen wees! (ANGELIQUE ERASMUS)
’n Fees van ’n Attakwas
Deelnemers aan vanjaar se 20ste Attakwas Extreme ry nie net op historiese paaie nie, maar sien ook van die mooiste natuurskoon wat wissel van Klein Karoo landskappe, van fynbos en proteas, tot in die berge en selfs woude. Vanjaar het ook ’n 40 km roeteverandering ingesluit. Foto’s: Oakpicks