Oudtshoorn het Dinsdag, 20 Januarie, ’n geliefde dokter en gemeenskapslid verloor. Dr. Adam Johannes Barnard, gebore op 25 April 1935 in George, het in November 1963 saam met sy vrou, Freda, en hul oudste kind, Eureka, van Marydale in die Noord-Kaap na Oudtshoorn verhuis. Sedertdien het hy vir ses dekades sy pasiënte met toewyding en omgee gedien.
Dr. Barnard was bekend as ’n opregte en sorgsame mens wat sy medemens altyd eerste ge-stel het, ongeag die tyd of wie die persoon was. ’n Goeie familievriend, Hennie, het hom so beskryf: “Hy was geliefd deur sy familie, vriende, pasiënte en vreemdelinge. Sy teenwoordigheid sal gemis word, maar hoe hy gelewe het, is sy ware nalatenskap.
Altyd bereid om te help, te luister, lekker te eet, nuwe dinge te probeer. Hy het voluit geleef en gelag, en die wêreld ’n beter plek gelos. Ek vermoed hy het tevrede die wêreld verlaat.”
Benewens sy mediese praktyk was hy ’n feno-menale kok, veral vaardig met vleis, en het ’n oog gehad vir mooi motors. Hy het selfs Oudtshoorn se eerste rooi Ferrari in die vroeë tagtigs besit.
Familietyd was vir hom kosbaar. Elke Sondagmiddag-ete, waaraan gemiddeld sowat 24 mense deelgeneem het, was ’n hoogtepunt, en vriende, selfs vriende van vriende, was altyd welkom om aan te sit.
Hy het ook ’n groot liefde vir tuinmaak gehad. Sy tuin het van Clivias tot tamaties en ander in- teressante plante ingesluit. Sy dogter, Eureka Barnard, onthou hoe hulle as kinders in die vroeë sewentigerjare van die eerste eiervrugte uit sy tuin geëet het.
Sy vrou, Freda Barnard, is op 30 Desember 2023 oorlede. Sy het ook ’n blywende merk in die gemeenskap gelaat, veral in die swemwêreld. Die Freda Barnard Swemgala, wat jaarliks plaasvind, het verlede jaar sy 44ste aanbieding beleef en lok om en by 40 swemklubs van regoor Suid-Afrika.
Adam en Freda het saam ses kinders gehad, naamlik Eureka Barnard, Deon Barnard, Johan Barnard, Anneli Mostert, Delia van Biljon en Adam Barnard. Dr. Barnard het werk en gesinslewe moeiteloos gebalanseer en was altyd beskikbaar vir sy kinders en kleinkinders.
Hy het van 1963 tot 2023 in Oudtshoorn gepraktiseer – ’n indrukwekkende 60 jaar – altyd netjies geklee in ’n baadjie, das en mooi skoene.
Volgens sy familie sluit sy nalatenskap hard-werkendheid, sorgsaamheid, integriteit, opregtheid en ’n liefde vir sy medemens in.
“Hy was ons superheld – vir sy gesin en ek vermoed ook vir baie ander mense,” vertel Eureka.
Sy kleinkind, Adam Barnard, voeg by: “Ons sal nooit die regte woorde vind om oupa se invloed in ons lewens te beskryf nie. Om jou naaste lief te hê en dit grensloos uit te leef is een van die ontelbare waardes wat oupa in ons familie ingeplant het.”
Dr. Barnard se nalatenskap leef voort in die harte van Oudts-hoorn se mense en almal wat die voorreg gehad het om hom te ken. (MALISSA SPIES)
Geliefde Oudtshoorn dokter oorlede
Adam Barnard en sy vrou, Freda. Foto: Anneli Mostert