2024 begin talle Graad 1’tjies hul skoolloopbaan, en ander ’n nuwe hoofstuk in die hoërskool.

Met skole wat in 2023 amptelik op 13 Desember gesluit het en 17 Januarie 2024 heropen het, was die vakansie nogal ’n lang een, en het baie ouers uitgesien daarna dat die skole moet begin.
Daar was seker kinders wat nie so baie daarna uitgesien het nie en vir ander het die vakansie te kort gevoel.
Gister het nie net die graad 1-kindertjies met splinternuwe, en in sekere gevalle effe groot klere by verskeie skole in die Klein Karoo aangekom nie, maar ’n hele paar hoërskoolkinders ook.
Daar was Dinsdag verskeie ouers wat nog van winkel na winkel met lysies in die hand en sakke om die arms geloop het om die laaste van die laaste items te koop wat die kinders gaan nodig hê.
Van skryfbehoeftes, kossakke met koeldrankbottels en kosblikke, skoolklere en -skoene, is daar ’n magdom items wat elke kind moet hê. En elke skool se vereiste en lys is anders.
Ek self het vanjaar ’n kind in graad 7 en 8 en het sover moontlik tweedehands hoërskoolklere vir die oudste gekoop. Die jongste erf mos boeta se klere, so ek was onder die indruk dat hierdie jaar ’n relatiewe goedkoop rondte sal wees. Die ontnugtering was groot, dinge is duur.
Ek haal my hoed af vir elke ouer wat tans en nog in moeilike ekonomiese tye vir hul kind die beste tot hul vermoë sorg en gee.
Dis ook mooi om te sien hoe elke skool dalk ’n spesiale tradisie het, iets wat vir die kinders wys, “jy hoort hier, jy is deel van ons skool en ons kultuur,”. Laerskool Wesbank en Langenhoven Gimnasium het ’n kloklui-seremonie. Met kinders se intrapslag word die klok gelui en so ook op hul laaste dag. En dit is verbasend om te sien hoe emosioneel baie van die kinders op hul laaste dag is.
Party skole reël dat die ouers die dag voor die tyd by ’n sosiale geleentheid mekaar leer ken, en dis verbasend om te sien hoeveel ouers se kinders dieselfde ouderdom is, veral die wat dalk voorheen in ’n ander skool was.
Dit help die ouers seker tot ’n mate sodat hul weet hul stap die pad saam met ander ouers en daar sal darem iemand langs die sportveld wees wat hul vanjaar ken.
Een van die grootste skokke is om kinders te herken wat graad 1 toe gaan, want dit herinner ons net weer dat die tyd nie stilstaan nie. Gister is hulle klein, en in ’n oogwink stap hy of sy in hul laaste skooljaar as matriekleerder in.
Die Hoorn het die mooiste foto’s van ons lesers ontvang van kinders wat Woensdag skool toe gegaan het. Gaan kyk gerus op bladsy 8 en 9 daarna.
Ons wens elke leser en hul kind of kinders sterkte toe vir die nuwe skooljaar van 2024.
Deel met ons as jou kind presteer, ons sal graag saam met jou wil trots wees en deel in jul vreugde, en dit so ook met die res van ons lesers deel. (Deur Angelique Erasmus)
Deel enige prestasies met ons: akademies en sport met Die Hoorn, ons plaas dit graag en deel dit met ons lesers. E-pos die inligting en ’n foto na redaksie@hoorn.co.za of joernalis@hoorn.co.za of sport@hoorn.co.za.