Kliniek wat gemeenskap dien binnekort weer oop

Foto links bo: Die eienaar het sy hond wat deur ’n bobbejaan aangeval is, na ACT toe gebring. Foto regs bo: ’n Hondjie wag geduldig vir sy beurt om behandel te word. Foto onder; Elmarie Swiegers en lede van die gemeenskap tydens ’n sterilisasieveldtog in Dysselsdorp. Foto’s verskaf

Die gemeenskapskliniek wat deur ACT (Animal Care Team ) op die perseel van die staatsveearts bedryf was, het ’n nuwe perseel bekom. ACT moes verlede jaar die besluit neem om ’n perseel te bekom wat meer sentraal is om die hele gemeenskap te bedien.

Elmarie Swiegers, voorsitter van ACT, het hierdie week die goeie nuus gedeel dat hulle ’n perseel naby Rademeyer- en Dassiestraat bekom het.

“Ons het pas die huurkontrak geteken wat beteken ons sal binnekort weer na die diere van pensioenarisse en behoeftige mense kan omsien. Sodra ons gereed is om diere te ontvang, sal ons die adres bekendmaak.”

Volgens Swiegers is dit belangrik om te weet dat ACT nie hokke het of by aannemings betrokke raak nie.

“Ons is ’n organisasie sonder winsbejag wat op die sterilisasie en inenting van troeteldiere fokus en ook bewusmaking oor goeie troeteldiersorg doen. Ons is nie in kompetisie met ander diere-organisasies nie en ons dienste is eerder voorkomend as versorgend.”

Alhoewel Swiegers opgewonde is oor die nuwe perseel, bring dit ook groot finansiële uitdagings. Waar die vorige perseel by die staatsveearts gratis beskikbaar was en die staatsveearts se dienste gebruik kon word, moet daar nou huur betaal word en veeartse moet betaal word.

“Die nuwe perseel kos ons huurgeld elke maand en die twee veeartse onder wie se toesig die kliniek en die versorging van diere val, moet betaal word. Ons is uiters dankbaar vir die twee veeartse wat bereid is om ons te ondersteun,” sê Swiegers.

ACT bestaan reeds vir tien jaar en is ten volle afhanklik van donasies uit die gemeenskap. Hulle dienste maak voorsiening vir sterilisasies, inentings, wondversorgings in sommige gevalle, huisbesoeke en bewusmaking by skole en klinieke.

“Al ons lede is vrywilligers en ons dienste is beskikbaar aan mense wat werklik nie die vermoëns het om hulle diere teen betaling te laat steriliseer of inent nie. Ons werk op ’n glyskaal waar mense wat tog iets kan bydra dit wel doen,” verduidelik sy.

Sy noem ook dat ACT gereeld op plase werk en hoop dat organisasies soos die besigheidskamer en landbouverenigings betrokke sal raak.

Lede van die publiek, besighede en organisasies wat graag tot ACT se dienste wil bydra, kan Elmarie Swiegers by 082 498 0177 kontak. (HANNES VISSER)