Klasse vir spesiale behoefte-leerders

Gaste tydens Woensdag se openingsgeleentheid voor die spesiale klasse by Dysselsdorp primêre skool. Foto: Hannes Visser

Vir leerders van Dysselsdorp wat spesiale leerbehoeftes het, was die enigste opsie om in hoofstroomklasse te wees.

Met ’n projek wat vanjaar tussen skole en die WKOD se distrikskantoor van stapel gestuur is, is daar nou ’n ander alternatief. Verlede week is vyf klaskamers by drie skole in Dysselsdorp in gebruik geneem wat spesifiek gerig is op leerders met spesiale behoeftes.

Laerskool Dysselsdorp het drie klaskamers en PJ Badenhorst Primêr en Dysselsdorp Sekondêr het elk een klas gekry.

Verskeie amptenare van die WKOD, perso-neellede, skoolhoofde en ouers het op Woensdag 15 Januarie die amptelike opening van die klasse by Dysselsdorp Primêr bygewoon.

Die skoolhoof van PJ Badenhorst, Enrique Pietersen, het Woensdag gesê dit is lewensveranderend vir Dys- selsdorp. “Hier is kinders in ons skole wat net deur die krake val en verdwyn, want hulle kan eenvoudig net nie in die hoofstroom vor-der nie.

Nou is daar spesiale ruimtes geskep vir daardie kinders wat spesiale behoeftes het.”
Volgens Caren Herbst, hoof: leerderondersteuning by die WKOD se distrikskantoor, is hierdie die eerste projek in die provinsie wat daarvoor voorsiening maak dat leerders met spesiale behoeftes hulle hele skoolloopbaan in spesiale onderwys in hulle eie gemeenskap kan voltooi.

“Dit beteken dat leerders met spesiale behoeftes hulle hele skoolloopbaan by ’n skool in hulle gemeenskap kan voltooi.”

Sy sê die projek gebruik ’n gediffirensieerde weergawe van die normale leerplan en is baie prakties gerig.

Die projek is inklusief wat beteken die leerders is 100% deel van alle aktiwiteite by die skool.
Daar is tans 15 tot 18 leerders per klas en Herbst sê die projek kan moontlik na ander onderwyskringe en -distrikte uitgebrei word.

Die projek beteken ook addisionele personeel vir die drie skole.

Elke klas het ’n onderwyser sowel as ’n assistent wat na die onderrigbehoeftes van die leerders omsien.

Hennie Baartman, skoolhoof van Eljada-Kairos skool het gesê hulle skool is bevoorreg om betrokke te kan wees by die voorbereiding en implimentering van die spesiale klasse by die drie skole.

“Dit is ’n groot uitdaging om voorsiening te maak vir leerders wat spesiale onderwysbehoeftes het en hierdie klasse gaan ’n groot bydrae maak om daardie uitdaging te help oorkom.” (HANNES VISSER)