Aurora op Oudtshoorn gesien

Bo: Die foto is Satedagoggend om 01:00 op ’n plaas net buite Oudtshoorn geneem. Foto: Ranger Grebe Onder: Die kleure was meer aan die pienk en blou kant gewees in die Napa Vallei, Kalifornia, Amerika. Foto: Sarie Venter Heelonder: Hier is die kleure meer aan die blou en groen kant op Saterdag in Kanada, in die dorpie Steward in British Columbia. Foto Loretta Fourie

Saterdag, in die vroeë oggendure, is menige inwoners van die Klein Karoo met ’n pragtige dog unieke rooi skouspel bederf.

Die fenomeen staan bekend as ’n Aurora, waarvan daar twee soorte is.

Aurora borealis is ’n kleurvolle lig in die hemelruim naby die Arktiese sirkel in die Noorde en Aurora Australis is die ligverskynsel in die Suide by Antarktika.

Die fenomeen word normaalweg nader aan die Noord- en Suidpool gewaar, maar het Maandag so ver verskyn, dat inwoners in dele van Amerika, Engeland en ook Afrika dit gewaar het.

Dit blyk dat in die Noorde die kleure meer aan die groen en blou kant was, maar verder af Suid meer na Pienk en rooi geneig het.

Dit het ontstaan as gevolg van ’n sonstorm op die son, sowel as sonwind wat in aanraking kom met gasse in die aarde se atmosfeer.

Volgens National Geographic se webtuiste, gebeur dit wanneer sonwind die aarde bereik en in die planeet se magnetiese veld vaswaai.

Dit produseer dan strome met energie gelaaide deeltjies wat na die pole vloei.

Sommige van die ione word vasgevang in ‘n laag van die atmosfeer wat die ionosfeer genoem word, waar hulle met gas-atome bots – hoofsaaklik suurstof en stikstof – en daar dan ekstra ener- gie “opgewek” word.

Hierdie energie word dan vrygestel as ligdeeltjies, of fotone.

Dit kan ook elke 27 dae plaasvind, omdat die son 17 dae neem om een keer om sy as te draai.

Hou dus die lugruim vanaf 7 Junie 2024 dop, dalk is jy gelukkig genoeg om hierdie asemrowende skouspel te gewaar.

Volgens Rangeer Grebe wat die rooi lig om 01:00 die oggend op 11 Mei gesien het, nadat dit 11 jaar tevore laas gebeur het, is daarin ’n profetiese boodskap opgesluit.

“Ek het eers gedink daar is êrens ’n brand toe ek die rooi lug sien, maar later het dit vir my gevoel kompleet soos die glorie van God wat Oudtshoorn se hemelruim omvou, en ’n belofte vir die dorp wat aan kom,” het Grebe op sy Facebook geskryf.

“The Red Sky – Is a Reminder to us that His Blood has washed away all our sins and we should live as people that are forgiven of all sin. It is also a warning for God’s people to keep on praying and not to fall into Spiritual slumber, fatigue, or hopelessness. Keep your Lamp full of oil. Matt. 25: 1-9” lui die res van sy inskrywing. (Deur Angelique Erasmus)